Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:26-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Toe beveel die koning van Israel: “Arresteer Miga en vat hom na Amon, die burgemeester van die stad, en na my seun Joas toe.

27. Sê vir hulle die koning beveel: ‘Sit hierdie man in die tronk en gee hom niks meer as brood en water totdat ek veilig van die oorlog af terugkom nie!’”

28. Maar Miga antwoord: “As die koning veilig terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder sê hy vir die omstanders: “Julle moet almal luister na wat ek gesê het!”

29. Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het toe teen Ramot-Gilead opgetrek.

30. Koning Agab van Israel het vir Josafat gesê: “Voor ons begin veg, gaan ek my vermom. Jy kan gerus jou koninklike klere aanhou.” Die koning van Israel het hom toe vermom en so aan die geveg deelgeneem.

31. Die koning van Aram het die bevelvoerders van sy 32 strydwaens beveel: “Spits julle net toe op die koning van Israel! Moenie aan enigiemand anders klein of groot aandag gee nie.”

32. Toe die bevelvoerders van die strydwaens vir Josafat sien, sê hulle: “Dit moet die koning van Israel wees!” en hulle het op hom toegesak. Toe het Josafat om hulp geroep.

33. Die bevelvoerders van die strydwaens het egter besef dat dit nie die koning van Israel was nie en het opgehou om hom te agtervolg.

34. Iemand het egter blindweg ’n pyl afgeskiet. Die pyl het die koning van Israel tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat getref. “Draai weg en kry my uit die geveg!” beveel Agab die drywer. “Ek is gewond!”

35. Die geveg het egter so hewig geword dat Agab verplig was om die hele dag teenoor die Arameërs regop in sy strydwa te bly staan. Teen die aand het hy gesterf. Die bloed uit sy wond het tot in die bak van die strydwa geloop.

36. Toe die son begin ondergaan, is daar in die kamp geroep: “Elke man terug na sy stad; elkeen terug na sy land toe!”

37. Die koning was reeds dood. Sy liggaam is na Samaria toe gebring en hy is daar begrawe.

38. Hulle het die strydwa by die dam van Samaria afgespoel, waar die prostitute hulleself altyd was. Die honde het gekom en die koning se bloed opgelek net soos die Here gesê het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22