Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:15-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Agab het toe die jong soldate van die distrikshoofde opgestel. Daar was 232 van hulle. Hy het ook die res van sy leër van 7 000 man agter hulle opgestel.

16. Teen ongeveer die middag, terwyl Ben-Hadad en die konings van die 32 bondgenote nog besig was om in hulle tente te drink,

17. het die jong soldate van die distrikshoofde aan die voorpunt uit die stad opgeruk. Soos hulle naderkom, is Ben-Hadad ingelig: “Daar kom troepe uit Samaria.”

18. “Of hulle nou kom vir vrede of vir oorlog, vang hulle lewendig!” beveel Ben-Hadad.

19. Teen hierdie tyd het die jong soldate van die distrikshoofde reeds uit die stad getrek, met die leër agter hulle aan.

20. Elke Israelitiese soldaat het sy Aramese opponent doodgemaak. Die hele Aramese leër het paniekbevange gevlug, met die Israeliete agter hulle aan. Koning Ben-Hadad en ’n klompie ander het egter op perde gevlug.

21. Die koning van Israel het uit die stad gekom en die perderuiters en strydwamagte verslaan. Die Arameërs is in groot getalle afgemaai.

22. Daarna het die profeet weer gekom en vir koning Agab gesê: “Tref voorbereidings en beplan vir nog ’n aanval, want oor ’n jaar sal die koning van Aram weer teen u optrek.”

23. Daarna het Ben-Hadad se raadgewers vir hom gesê: “Die gode van die Israeliete is berggode. Dis hoekom hulle gewen het. Maar as ons die oorlog op die vlaktes voer, sal ons hulle verslaan.

24. Ons moet net die volgende verandering maak: Onthef die konings van hulle bevelsposisies en vervang hulle met gewone bevelvoerders.

25. U moet self weer ’n leër op die been kry soos die een wat verslaan is. Laat daar net soveel perderuiters, strydwaens en manne wees soos voorheen. Dan pak ons hulle op die vlaktes. Daar is geen twyfel dat ons hulle dan sal verslaan nie.” Koning Ben-Hadad het toe gemaak soos hulle voorgestel het.

26. Die volgende jaar het hy die Aramese leër opgeroep en na Afek opgetrek om teen Israel te veg.

27. Israel het hulle leër opgeroep en goed voorbereid teen die vyand opgetrek. Die Israeliete het teenoor die Arameërs kamp opgeslaan. Hulle het egter soos twee troppe bokke gelyk in vergelyking met die groot Aramese mag wat oor die vlakte verspreid was.

28. Die man van God het weer na die koning van Israel gegaan en gesê: “Dit is wat die Here sê: ‘Die Arameërs het gesê die Here is ’n berggod en nie ’n god van die vlaktes nie. Daarom gee Ek hierdie groot leër oor in julle mag. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.’”

29. Die twee leërs het sewe dae lank so teenoor mekaar opgestel gestaan. Op die sewende dag het die geveg uitgebreek. Die Israeliete het 100 000 Aramese voetsoldate op een dag doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20