Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:3-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Volg die vereistes van die Here jou God en leef daarvolgens. Wees gehoorsaam aan sy gebooie, bevele, opdragte en bepalings soos dit opgeteken is in die voorskrifte van Moses. Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen en waar jy ook al gaan.

4. As jy só lewe, sal die Here sy beloftes aan my vervul. Hy het gesê: ‘As jou afstammelinge in waarheid voor My lewe en My met algehele toewyding getrou navolg, sal daar altyd een van hulle op die troon van Israel wees.’

5. “Dan is daar ook nog iets anders. Jy weet dat Joab seun van Seruja my twee bevelvoerders, Abner seun van Ner en Amasa seun van Jeter, vermoor het. Hy het hulle in vredestyd doodgemaak asof dit oorlog was. Hy het die gordel om sy lyf en die skoene aan sy voete met bloed bevlek.

6. Maak met hom soos wat jy goeddink, maar moenie dat hy in vrede sterf net omdat hy oud is nie.

7. “Wees goed vir die seuns van Barsillai uit Gilead. Laat hulle in jou huis bly, want hulle het my versorg toe ek voor jou broer Absalom moes vlug.

8. “Onthou ook vir Simeï seun van Gera, die man uit Bagurim in Benjamin. Hy het my vreeslik gevloek toe ek na Maganajim toe gevlug het. Toe hy my by my terugkeer by die Jordaanrivier kom ontmoet het, het ek voor die Here onderneem dat ek hom nie met die swaard sou doodmaak nie.

9. Maar hy is nie onskuldig nie. Jy is ’n wyse man. Jy sal weet hoe om hom in sy oudag met geweld te laat sterf.”

10. Daarna het Dawid gesterf en is in die Dawidstad begrawe.

11. Hy het 40 jaar lank oor Israel regeer, sewe jaar in Hebron en 33 jaar in Jerusalem.

12. Salomo het sy pa, Dawid, opgevolg en het sy koningskap stewig gevestig.

13. Op ’n dag kom Adonia seun van Dawid en Gaggit na Batseba, Salomo se ma toe. “Kom jy in vrede?” vra sy.“Ja,” sê hy.

14. “Ek wil net met u praat. Trouens, ek wil u ’n guns vra.”“Praat gerus,” sê sy.

15. Hy antwoord: “Soos u weet, was die koningskap eintlik vir my bedoel, en almal het ook verwag dat ek die volgende koning sou wees. Maar sake het anders verloop en die Here het bepaal dat my broer koning moet wees.

16. Nou vra ek net een guns van u. Moet dit asseblief nie weier nie.”“Wat is dit?” vra sy.

17. Hy antwoord: “Praat asseblief met koning Salomo, want ek weet hy sal enigiets doen wat u vra. Vra hom om Abisag, die meisie uit Sunem, vir my as vrou te gee.”

18. “Goed,” sê Batseba. “Ek sal vir jou voorspraak doen by die koning.”

19. Batseba gaan toe na koning Salomo om Adonia se versoek te stel. Die koning het opgestaan om haar te ontmoet en het voor haar gebuig. Hy het weer op sy troon gaan sit en beveel dat daar ’n troon aan sy regterkant vir sy ma neergesit word.

20. “Ek wil een klein gunsie van jou vra,” sê sy. “Ek hoop jy sal my nie weier nie.”“Wat is dit, Ma?” vra hy. “U weet ek sal u niks weier nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2