Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:23-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Toe lê koning Salomo ’n eed af voor die Here: “Mag God my straf as ek Adonia nie oor hierdie versoek teregstel nie.

24. So seker as die Here leef, Hy wat my stewig op die troon van my pa, Dawid, gevestig het en vir my ’n koningshuis geskep het soos Hy beloof het – net so seker moet Adonia vandag nog tereggestel word!”

25. Koning Salomo stuur toe vir Benaja seun van Jojada na Adonia toe en hy het hom doodgemaak.

26. Daarna sê die koning vir Abjatar die priester: “Gaan terug na jou landerye in Anatot! Jy verdien die dood, maar ek sal jou nie nou teregstel nie, want jy het die ark van die oppermagtige Here voor my pa gedra, en jy het baie ontberings saam met hom meegemaak.”

27. Salomo het Abjatar as priester van die Here ontslaan. So het die oordeel van die Here by Silo oor die afstammelinge van Eli in vervulling gegaan.

28. Hoewel Joab destyds nie met Absalom saamgewerk het nie, het hy tog die opstand van Adonia gesteun. Toe Joab van Adonia se dood hoor, vlug hy na die heiligdom toe en gryp die horings van die altaar vas.

29. Toe Salomo dit hoor, stuur hy vir Benaja seun van Jojada om hom dood te maak.

30. Benaja het in die heiligdom van die Here ingegaan en vir Joab gesê: “Die koning beveel jou om uit te kom!”Maar Joab antwoord: “Nee, ek wil hiér sterf.”Benaja het toe teruggegaan na die koning toe en hom vertel wat Joab gesê het.

31. “Maak soos hy gesê het,” antwoord die koning. “Maak hom langs die altaar dood en begrawe hom. Dit sal die skuld van sy sinlose moorde wegneem van my en my pa se familie.

32. So sal die Here hom vergeld vir die moord op twee manne wat regverdiger en beter was as hy. Want my pa het geen deel gehad aan die dood van Abner seun van Ner en bevelvoerder van die leër van Israel nie, en ook nie aan dié van Amasa seun van Jeter en bevelvoerder van die leër van Juda nie.

33. Mag die skuld vir hierdie moorde vir altyd op Joab en sy nageslag rus, maar mag die Here vir altyd vrede gee aan Dawid, aan sy nageslag en aan sy troon.”

34. Benaja het toe teruggegaan en Joab in die heiligdom doodgemaak. Joab is begrawe by sy huis in die wildernis.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2