Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Na ’n lang tyd, tydens die derde jaar van droogte, sê die Here vir Elia: “Gaan na koning Agab toe en sê vir hom Ek sal dit binnekort laat reën.”

2. Elia het na Agab toe gegaan.Intussen het die hongersnood in Samaria toegeneem.

3. Agab het vir Obadja die paleisopsigter laat kom. Obadja was ’n toegewyde volgeling van die Here.

4. Toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het, het Obadja 100 van hulle in grotte versteek, 50 in elke grot. Daar het hy hulle van kos en water voorsien.

5. Agab het vir Obadja gesê: “Ons moet deur die hele land gaan en na elke fontein en spruit gaan kyk of ons nie êrens weiding vir minstens sommige van my perde en muile kan kry nie. Dan sal dit nie nodig wees om hulle dood te maak nie.”

6. Hulle het toe die land tussen hulle twee verdeel. Agab het in een rigting gegaan en Obadja in ’n ander rigting.

7. Obadja was nog op pad en dáár kom Elia hom tegemoet! Obadja het hom dadelik herken en voor hom neergebuig. “Is dit dan nie my heer Elia nie?” vra hy.

8. “Ja, ek is Elia,” antwoord hy. “Gaan sê vir die koning ek is hier.”

9. “Maar, Meneer,” maak Obadja beswaar. “Watter kwaad het ek dan gedoen dat u my na Agab, na my dood toe stuur?

10. So seker as die Here u God leef, die koning het by elke nasie en koninkryk op aarde na u laat soek. Elke keer as hy hoor ‘Elia is nie hier nie,’ het Agab die koning van daardie volk met ’n eed laat bevestig dat dit inderdaad so is.

11. En nou sê u vir my: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18