Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 10:9-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Die Here u God kom die lof toe omdat Hy soveel liefde aan u bewys het en u op die troon van Israel gesit het. Dis omdat die Here Israel eindeloos liefhet dat Hy u koning oor Israel gemaak het sodat u in reg en geregtigheid kan regeer.”

10. Toe gee sy vir die koning ’n geskenk van meer as vier ton goud, baie speserye en waardevolle edelstene. Nooit weer is so baie speserye die land ingebring soos wat die koningin van Skeba vir Salomo gegee het nie.

11. Toe Hiram se skepe goud uit Ofir gebring het, het hulle ook baie jenewerhout en waardevolle edelstene saamgebring.

12. Die koning het die jenewerhout gebruik om relings vir die tempel van die Here en die koninklike paleis te maak, en liere en harpe vir die musikante. Nooit tevore of daarna is sulke pragtige jenewerhout gesien nie.

13. Koning Salomo het vir die koningin van Skeba alles gegee waarvoor sy gevra het. Dit was bo en behalwe die ander geskenke wat hy as koning gegee het. Daarna het sy en haar gevolg vertrek en na haar eie land toe teruggegaan.

14. Salomo se inkomste was jaarliks ongeveer 23 ton goud.

15. Dit is afgesien van die inkomste wat hy van reisigers en handelaars, al die konings van Arabië en die streeksbestuurders in Israel ontvang het.

16. Koning Salomo het 200 groot skilde van bladgoud gemaak. Hy het ongeveer sewe kilogram goud vir elke skild gebruik.

17. Hy het ook 300 klein skilde van bladgoud gemaak en ongeveer twee kilogram goud vir elkeen gebruik. Die koning het hierdie skilde in die Libanonsbosgebou geplaas.

18. Die koning het ook ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

19. Die troon het ses trappies gehad en die kopstuk agter was rond. Aan albei kante van die troon was daar armleunings met ’n beeld van ’n leeu langsaan.

20. Twaalf beelde van leeus het op die ses trappies gestaan, een aan weerskante van ’n trappie. Daar was geen gelyke hiervan in enige ander koninkryk nie.

21. Koning Salomo se drinkbekers was van goud. So ook al die gebruiksartikels in die Libanonsbosgebou. Niks is van silwer gemaak nie omdat dit in Salomo se tyd geen waarde gehad het nie.

22. Die koning het ’n Tarsisvloot gehad wat saam met dié van Hiram uitgevaar het. Elke drie jaar het hierdie Tarsisvloot teruggekeer, belaai met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane.

23. Koning Salomo het al die konings op aarde oortref in rykdom en wysheid.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 10