Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 8:13-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Want as die sondige natuur julle lewe beheer, gaan julle die dood tegemoet. Maar as julle deur die Gees die werke van julle sondige natuur doodmaak, sal julle werklik lewe.

14. Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders.

15. Die Gees wat julle ontvang het, is nie ’n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader.

16. Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is.

17. En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid.

18. Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie.

19. Die skepping smag na daardie dag wanneer God sy kinders openlik bekend sal stel.

20-21. Want teen sy wil is die ganse skepping in ’n sinnelose kringloop van aftakeling vasgevang as gevolg van God se straf op die eerste mense se ongehoorsaamheid. Die ganse skepping sien uit na die dag wanneer dit ook self van die slawediens aan hierdie verganklikheid bevry sal word en deel sal kry aan die heerlike vryheid van God se kinders.

22. Ons weet immers dat die ganse skepping nog steeds aan die kreun is soos iemand met geboortepyne.

23. Wat meer is, ons wat die Gees as voorsmaak en waarborg van ons toekomstige heerlikheid ontvang het, kreun ook in ons binneste in ons smagting om van ons verganklike liggame verlos te word.

24. Noudat ons verlos is, sien ons uit na ons toekomstige heerlikheid. Want as jy iets reeds het, hoef jy nie meer daarna uit te sien nie.

25. Maar as jy dit nog nie het nie, sien jy gretig en volhardend daarna uit.

26. Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie.

27. Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree.

28. En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Lees volledige hoofstuk Romeine 8