Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 2:7-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Daarop het Herodes ’n geheime boodskap na die sterrekundiges gestuur om hulle na hom te ontbied. Hy het toe noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster oorspronklik verskyn het.

8. Daarna laat hy hulle na Betlehem gaan met die opdrag: “Gaan vind alles noukeurig oor die Kindjie uit. As julle Hom kry, kom sê vir my dat ek Hom ook kan gaan aanbid.”

9. Nadat hulle die koning aangehoor het, het die sterrekundiges vertrek. En, werklikwaar, die ster wat hulle in die ooste sien verskyn het, is weer daar en dit beweeg voor hulle uit totdat dit bokant die plek gaan staan waar die Kindjie was.

10. Met dié dat hulle die ster sien, het ’n wonderlike blydskap oor hulle gekom.

11. Toe hulle in die huis ingaan, sien hulle die Kindjie by Maria, sy ma, en hulle val voor Hom neer en aanbid Hom. Toe maak hulle hulle kissies met kosbaarhede oop en gee aan Hom geskenke van goud en wierook en mirre.

12. Maar omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie weer na Herodes terug te gaan nie, het hulle met ’n ander roete huis toe vertrek.

13. Ná die vertrek van die sterrekundiges verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê: “Staan op en vlug met die Kindjie en sy ma na Egipte toe. Bly daar tot ek vir jou sê om terug te kom, want Herodes gaan die Kindjie probeer doodmaak.”

14. Josef het toe opgestaan en nog daardie selfde nag met die Kindjie en sy ma na Egipte toe vertrek.

15. En hulle het daar gebly tot Herodes se dood. So is vervul wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”

16. Toe Herodes agterkom dat die sterrekundiges hom uitoorlê het, was hy siedend van woede. Hy het soldate gestuur om in en rondom Betlehem al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe te bring. Hy het die twee jaar bereken volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het.

17. Daarmee is Jeremia se uitspraak vervul:

18. “’n Smartkreet word gehoor in Rama,’n gesnik en ’n bitter geklaag.Ragel huil oor haar kinders.Sy wil maar net nie vertroos word nie,want hulle is dood.”

19. Ná Herodes se dood verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê vir hom:

20. “Staan op en neem die Kindjie en sy ma terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie om die lewe wou bring, is dood.”

21. Josef het dadelik met die Kindjie en sy ma vertrek en hy het in die land Israel aangekom.

22. Toe hy egter hoor dat Argelaus koning geword het in sy pa, Herodes, se plek, het hy bang geword om na Judea te reis. Omdat God hom in ’n droom so beveel het, het hy toe na die omgewing van Galilea vertrek.

23. En so het hy hom gaan vestig in ’n dorp met die naam Nasaret. Daarmee is die uitspraak van die profete vervul dat die Messias ’n Nasarener genoem sou word.

Lees volledige hoofstuk Matteus 2