Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6:39-49 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

39. Jesus het toe die volgende voorbeeld gebruik: “Hoe kan ’n blinde persoon ’n ander blinde lei? Die eerste sal in ’n sloot val en die ander een saam aftrek.

40. ’n Leerling is nie belangriker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word.

41. “En waarom sien jy die splinter in jou vriend se oog raak en sien nie die yslike stomp in jou eie oog nie?

42. Hoe kan jy dan vir jou vriend sê: ‘Vriend, laat ek jou help om die splinter uit jou oog te kry,’ terwyl jy nie verby die stomp in jou eie oog kan sien nie? Skynheilige! Raak eers ontslae van die stomp in jou eie oog, dan sal jy goed genoeg kan sien om die splinter uit jou vriend se oog te haal.”

43. “’n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie.

44. ’n Boom word geken aan die soort vrugte wat hy dra. Vye groei tog nie aan doringbosse, of druiwe aan braambosse nie.

45. ’n Goeie mens bring goeie dade voort uit ’n goeie hart, en ’n slegte mens bring slegte dade voort uit ’n bose hart. Wat ook al in jou hart leef, bepaal wat jy sê.”

46. “Waarom noem julle My dan ‘Here’ as julle My nie gehoorsaam nie?

47. Ek sal aan julle verduidelik hoe dit is wanneer iemand na My toe kom, na my onderrig luister en My gehoorsaam.

48. Dis soos ’n man wat ’n huis bou op ’n sterk fondament wat op ’n rotsbasis gelê is. Wanneer die vloedwater styg en die huis tref, staan dit stewig, want dit is goed gebou.

49. Maar enigeen wat luister en nie gehoorsaam nie, is soos ’n man wat ’n huis sonder fondament bou. Wanneer die vloedwater teen daardie huis aanbruis, sal dit tot ’n puinhoop inmekaarstort.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 6