Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 28:7-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Daar was ’n plaas in daardie omge-wing wat aan die hoof van die eiland, ’n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik as sy gaste gehuisves.

8. Dit het so gekom dat Publius se pa in die bed was, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy sy hande op hom gesit en hom gesond gemaak.

9. Ná hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland gekom, en is hulle gesond gemaak.

10. Hulle het ons met baie eerbewyse oorlaai, en toe ons wou wegvaar, het hulle vir ons alles opgelaai wat ons nodig gehad het.

11. Na drie maande is ons daar weg met ’n skip wat by die eiland oorwinter het, ’n Aleksandrynse skip met die Dioskuri as boegbeeld.

12. Ons het by Sirakuse op die eiland Sisilië vasgemeer en drie dae daar oorgebly.

13. Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom, heel in die suide van Italië. Na nog ’n dag het daar ’n suidewind begin waai, en op die tweede dag was ons in Puteoli.

14. Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En só het ons Rome bereik.

15. Die gelowiges in Rome het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en ander by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.

16. Na ons aankoms in Rome is Paulus toegelaat om op sy eie te woon met ’n soldaat wat hom bewaak.

17. Drie dae later het hy die Joodse leiers na hom toe uitgenooi. Toe hulle bymekaargekom het, het hy vir hulle gesê: “Geagte broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek as gevangene uit Jerusalem aan die Romeine uitgelewer.

18. Die Romeine het my verhoor en wou my loslaat omdat daar in my geval geen rede vir die doodstraf was nie.

19. “Maar omdat die Jode daarteen beswaar gemaak het, kon ek nie anders as om na die keiser te appelleer nie, alhoewel ek my volk nie van iets wil aankla nie.

20. Dit is dan die rede waarom ek u laat roep het om u te sien en met u te praat. Ek is in hierdie boeie omdat ek glo dat die hoop van Israel, die Messias, reeds gekom het.”

21. Toe sê hulle vir hom: “Ons het geen briewe oor jou van Judea af gekry nie, en nie een van ons broers het enige nuus gebring of iets kwaads van jou gesê nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 28