Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 28:3-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Paulus het ’n klomp hout bymekaargemaak en op die vuur gegooi. Van die hitte het daar ’n slang uitgekom en hom aan sy hand gepik.

4. Toe die inboorlinge die gedierte aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man is beslis ’n moordenaar. Al is hy uit die see gered, het geregtigheid hom nie toegelaat om te bly lewe nie.”

5. Paulus het egter die ongedierte in die vuur afgeskud en geen nagevolge gehad nie.

6. Hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik morsdood neerslaan, maar nadat hulle ’n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks buitengewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en begin sê hy is ’n god.

7. Daar was ’n plaas in daardie omge-wing wat aan die hoof van die eiland, ’n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik as sy gaste gehuisves.

8. Dit het so gekom dat Publius se pa in die bed was, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy sy hande op hom gesit en hom gesond gemaak.

9. Ná hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland gekom, en is hulle gesond gemaak.

10. Hulle het ons met baie eerbewyse oorlaai, en toe ons wou wegvaar, het hulle vir ons alles opgelaai wat ons nodig gehad het.

11. Na drie maande is ons daar weg met ’n skip wat by die eiland oorwinter het, ’n Aleksandrynse skip met die Dioskuri as boegbeeld.

12. Ons het by Sirakuse op die eiland Sisilië vasgemeer en drie dae daar oorgebly.

13. Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom, heel in die suide van Italië. Na nog ’n dag het daar ’n suidewind begin waai, en op die tweede dag was ons in Puteoli.

14. Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En só het ons Rome bereik.

15. Die gelowiges in Rome het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en ander by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.

16. Na ons aankoms in Rome is Paulus toegelaat om op sy eie te woon met ’n soldaat wat hom bewaak.

17. Drie dae later het hy die Joodse leiers na hom toe uitgenooi. Toe hulle bymekaargekom het, het hy vir hulle gesê: “Geagte broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek as gevangene uit Jerusalem aan die Romeine uitgelewer.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 28