Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 12:4-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Hy het hom in die tronk gesit en deur vier afdelings van vier soldate elk laat bewaak. Herodes wou hom ná Paasfees in die openbaar verhoor.

5. So is Petrus dan in die tronk bewaak. Die kerk het aanhoudend vir hom tot God gebid.

6. Die nag voordat Herodes hom in die openbaar sou verhoor, het Petrus tussen twee soldate geslaap terwyl hy met twee kettings geboei was en ander wagte die tronkdeur bewaak.

7. Meteens staan daar ’n engel van die Here by Petrus, en ’n lig skyn in die sel. Die engel stoot toe aan Petrus se sy, en maak hom wakker en sê: “Staan gou op!” Die boeie het van sy polse afgeval.

8. Toe sê die engel vir hom: “Maak vas jou belt en trek jou sandale aan.” Hy het so gemaak. Daarna sê die engel vir hom: “Trek jou bo-kleed aan en kom agter my aan.”

9. Petrus het hom uit die sel gevolg. Hy het nie besef dat die optrede van die engel werklikheid was nie, maar het gedink hy sien ’n gesig.

10. Hulle is by die eerste wag verby en ook by die tweede, en toe hulle by die ysterhek kom wat na die stad toe lei, het dit vanself vir hulle oopgegaan. Hulle het buitentoe gegaan en ’n ent met die straat af gestap. Toe het die engel Petrus skielik verlaat.

11. Uiteindelik dring dit tot Petrus deur wat met hom gebeur het en hy sê vir homself: “Nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel gestuur het en my uit die mag van Herodes gered het en van die kwaad wat die Jode gehoop het om my aan te doen!”

12. Toe dit vir hom duidelik geword het, is hy na die huis van Maria, die ma van Johannes (sy noemnaam is Markus), waar ’n taamlike groep saam was en gebid het.

13. Hy het aan die buitedeur geklop, en ’n diensmeisie met die naam Rodé het kom hoor wie dit is.

14. Toe sy Petrus se stem herken, het sy van blydskap nie die deur oopgemaak nie, maar binnetoe gehardloop en uitgeroep dat Petrus by die buitedeur staan!

15. Maar hulle het vir haar gesê: “Jy is skoon van jou wysie af!” Toe sy egter daarmee volhou, het hulle gesê: “Dan is dit seker Petrus se engel.”

16. Intussen het Petrus weer geklop. Toe hulle oopmaak en hom sien, was hulle baie verbaas.

17. Hy het met sy hand vir hulle beduie om stil te raak en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het. “Vertel vir Jakobus en die ander gelowiges wat gebeur het,” het hy gesê. Hy is buitentoe, en het elders heen vertrek.

18. Toe dit dag word, was daar groot ontsteltenis onder die soldate oor wat van Petrus geword het.

19. Herodes Agrippa het hom laat soek. Toe hulle hom nie kon kry nie, het hy die wagte verhoor en bevel gegee dat hulle tereggestel word. Hierna het Herodes van Judea na Sesarea toe gegaan en ’n tyd daar gebly.

20. Herodes was destyds baie kwaad vir die mense van Tirus en Sidon. Daarom het hulle ’n gesamentlike afvaardiging na hom toe gestuur met ’n vredesvoorstel omdat hulle stede vir kos van Herodes se land afhanklik was. Hulle het Blastus, die koning se kamerbediende, oorgehaal om vir hulle ’n oudiënsie by Herodes te kry.

21. Op die vasgestelde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy verhoog gaan sit en hulle in die openbaar toegespreek.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 12