hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die ander apostels aanvaar

Paulus

1. Dit was eers veertien jaar later dat ek weer Jerusalem toe gegaan het. Ek het Barnabas en ook Titus saam met my gevat.

2. Daar is in ’n openbaring vir my gesê om te gaan. In ’n privaat gesprek met die leiers het ek die Goeie Nuus voorgelê wat ek aan die nie-Jode verkondig. Ek wou seker maak dat ek my nie tevergeefs inspan nie.

3. Maar hoewel Titus, wat saam met my was, ’n Griek is, is hy nie gedwing om hom te laat besny nie.

4. Net ’n paar skyngelowiges het daarop aangedring. Hulle het die byeenkoms binnegesluip om te kom spioeneer op die vryheid wat ons in Christus Jesus het. Hulle doel was om ons weer slawe te maak.

5. Ons het egter vir geen oomblik toegegee nie sodat die waarheid van die Goeie Nuus vir julle gehandhaaf kan bly.

6. Verder het die leiers – wat hulle status was, maak nie vir my saak nie; God kyk nie na ’n mens se status nie – niks meer van my verwag nie.

7. Inteendeel! Hulle het ingesien dat die Goeie Nuus vir die nie-Jode aan my toevertrou is, soos die Goeie Nuus vir die Jode aan Petrus toevertrou is.

8. Want, soos God vir Petrus toegerus het om ’n apostel vir die Jode te wees, het Hy my toegerus om ’n apostel vir die nie-Jode te wees.

9. En toe, omdat hulle besef het dat God sy genade aan my gegee het, het Jakobus en Petrus en Johannes – hulle is as die sleutelfigure beskou – my en Barnabas die hand gegee as teken dat ons kollegas is: Ons sou na die nie-Joodse nasies gaan en hulle na die Jode.

10. Al wat hulle gevra het, was dat ons aan die armes moes dink, en juis dit het ek ywerig gedoen.

Paulus wys Petrus tereg omdat

hy teen nie-Joodse Christene

diskrimineer

11. Toe Petrus egter na Antiogië gekom het, het ek hom openlik teengestaan omdat hy verkeerd was.

12. Voordat daar mense van Jakobus af gekom het, het hy saam met die nie-Jode geëet. Maar nadat hulle gekom het, het hy hom onttrek en hom tydens etes eenkant gehou omdat hy bang was vir wat die Joodse Christene sou sê.

13. Daarop het die ander Joodse Christene hom gevolg en selfs Barnabas het hom deur hulle skynheiligheid laat saamsleep.

14. Toe ek egter sien dat hulle optrede nie strook met die waarheid van die Goeie Nuus nie, het ek voor almal vir Petrus gesê: “Hoe kan jy, wat ’n Jood is – wat egter nie meer Joods lewe nie, maar nie-Joods – die nie-Jode dwing om soos Jode te leef?”

15. Ons wat van geboorte Jode is en nie sondaars uit die nie-Joodse nasies nie,

16. weet dat niemand deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie. Net deur die geloof in Jesus Christus kan dit gebeur! Selfs ons het tot geloof in Christus Jesus gekom sodat ons deur geloof, en nie omdat ons die wet onderhou nie, deur God vrygespreek kan word. Niemand sal mos deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie!

17. Dit is eers as ons deur Christus God se vryspraak soek dat ons raaksien dat ons self ook sondaars is. Beteken dit nou dat Christus in diens van die sonde staan? Natuurlik nie!

18. Dis eerder ék wat van myself ’n oortreder maak. Dis nou as ek weer begin leef volgens ’n stelsel wat ek klaar verwerp het.

19. Deur die wet het ek die wet afgesterf. Gevolglik leef ek nou vir God. Ek is saam met Christus gekruisig.

20. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

21. Ek verwerp nie dié genade van God nie. As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!