hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Christus maak julle vry van die

slawejuk van wetsonderhouding

1. Om vry te wees! – dit is waarvoor Christus ons vrygemaak het! Maak seker dat julle vry bly, en moet nie weer onder ’n slawejuk vasgebind word nie.

2. Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus niks vir julle beteken nie.

3. Ek sê dit weer: Elkeen wat besny word, is verplig om die hele wet na te kom.

4. Julle wat deur God vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, het julle van Christus losgemaak. Julle het God se genade verbeur.

5. Wat ons betref, die Gees laat ons uitsien na dit waarop ons hoop: vryspraak deurdat ons glo.

6. Vir mense wat met Christus verenig is, is dit nie belangrik of jy besny is of nie besny is nie. Wat egter wel belangrik is, is geloof wat deur liefde dade word.

7. Julle het so goed gevorder. Wie het julle gekeer om die waarheid te bly gehoorsaam?

8. Die idee kom nie van Hom wat julle geroep het nie!

9. Onthou: ’n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur.

10. Ek het vertroue in die Here wat julle betref dat julle nie anders as ek sal dink nie. Maar die persoon wat julle verwar het, sal gestraf word, wie dit ook al is.

11. Wat my betref, broers en susters, as dit waar is dat ek steeds verkondig dat besnydenis noodsaaklik is, waarom word ek dan vervolg? Dan is daar mos nie meer ’n kruisboodskap wat kan aanstoot gee nie.

12. Ek wens werklik dat dié wat julle opstandig maak oor die besnydenis, sommer hulleself kastreer!

Ware vryheid beteken om

mekaar in liefde te dien

13. Broers en susters, julle is inderdaad geroep om in vryheid te leef. Moet net nie die vryheid misbruik om sondige begeertes te bevredig nie, maar gebruik dit om mekaar met liefde te dien.

14. Die hele wet is saamgevat in een opdrag: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

15. Maar julle byt en verskeur mekaar. Pas op dat julle mekaar nie heeltemal verslind nie!

Julle leefstyl moet deur die Gees

bepaal word

16. Ek sê: Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie.

17. ’n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande. Julle kan dus nie sommer maar net alles doen wat julle wil nie.

18. Maar as julle deur die Gees gelei word, is die wet nie meer julle baas nie.

19. Die dinge wat ons sondige geaardheid ons laat doen, is bekend: seksuele sondes, onreinheid, losbandigheid,

20. afgodery, towerkuns, vyandigheid, rusie, jaloesie, woede, selfsugtige ambisie, verdeeldheid, partyskappe,

21. afguns, dronkenskap, wilde partytjies en al sulke dinge. Ek herhaal my vroeëre waarskuwing oor hierdie dinge: Wie sulke dinge doen, sal nie as erfgenaam deel hê aan God se koningsheerskappy nie.

22. Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,

23. sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie.

24. Maar dié wat aan Christus Jesus behoort, het die hartstogte en die begeertes van hulle sondige geaardheid gekruisig.

25. Ons lewe deur die Gees; daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal.

26. Ons moenie te veel van onsself dink, mekaar irriteer of op mekaar jaloers wees nie.