Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 12:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Ek het nou eintlik dwaas geword, maar julle het my daartoe gedwing. Want ek moes eintlik deur julle aanbeveel gewees het. Al is ek ook niks, staan ek niks agter vir daardie danige superapostels nie.

12. Die kentekens van ’n apostel het ek oor en oor uitgewys toe ek by julle was: deur die doen van tekens, wonders en kragtige dade.

13. In watter opsig is julle slegter daaraan toe as die ander gemeentes, behalwe dat ek self nie vir julle tot ’n las was nie? Vergewe my hierdie “onreg”!

14. Kyk, ek is nou vir die derde keer gereed om na julle toe te kom, en ek sal nie ’n las wees nie: ek is nie agter julle goed aan nie, maar julle self. Want dit is nie dat die kinders vir hulle ouers moet sorg nie, maar die ouers vir die kinders.

15. Ek sou baie graag alles wou spandeer vir julle lewe, ja, ook myself. Aangesien ek julle uitermate liefhet, hoe werk dit dat julle my dan minder liefhet?

16. Laat dit vasstaan – ek was regtig nie vir julle ’n las nie. Of meen julle dalk ek was te uitgeslape en het julle met ’n slap riem gevang? Hoe?

17. Het ek julle miskien mislei deur een van die mense wat ek na julle toe gestuur het?

18. Ek het vir Titus gevra en nog ’n broer saamgestuur. Het Titus julle dan gekul? Is ons optrede en styl dan nie in dieselfde gees nie; loop ons dan nie in dieselfde spore nie?

19. Julle dink seker al lankal dat ons hierdie dinge uit blote selfverdediging sê. Dis hoegenaamd nie die geval nie! Ons praat openlik oor hierdie dinge met God as ons getuie en vanuit ons hegte verhouding met Christus! Alles wat ons sê, geliefdes, is ter wille van julle opbou.

20. Ek is bang dat wanneer ek kom, ek julle nie so sal aantref soos ek julle graag wil hê nie, en dat ek ook nie deur julle so aangetref sal word soos julle my graag sal wil hê nie. Ek is veral bang vir twis, naywer, botsings, selfsugtige ambisie, kwaadstokery, geskinder, verwaandheid en wanordelikheid.

21. Ek is ook bang dat wanneer ek weer kom, my God my by julle sal verneder en dat ek sal treur oor baie wat al lank sonde doen en wat nie oor hulle onreinheid, seksuele vergrype en losbandigheid berou het nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 12