Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 1:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie brief kom van Paulus. Deur die wil van God is ek ’n apostel van Christus Jesus. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my.Ons skryf aan die gemeente van God in Korinte en aan al God se mense wat in die hele Agaje woon.

2. Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.

3. God, die Vader van ons Here Jesus Christus, word geprys! Hy is die Vader van barmhartigheid en die God wat in elke opsig bemoedig.

4. In al ons swaarkry bemoedig Hy ons. Hy doen dit sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het.

5. Net soos ons ’n oorvloed ontberings ter wille van Christus deurmaak, só beleef ons ook oorvloedige bemoediging deur Christus se bemiddeling.

6. As ons dus swaarkry, is dit ter wille van julle bemoediging en verlossing. Want as ons God se bystand beleef, is dit sodat ons julle weer kan bemoedig. So kan julle met volharding die ontberings trotseer wat ons ook moet deurstaan.

7. En ons verwagting wat julle betref, staan op stewige bene: Ons weet dat net soos julle deel het aan die ontberings, julle ook só deel het aan die bemoediging.

8. Ons wil nie hê dat julle, broers en susters, oningelig moet wees oor ons swaarkry in die provinsie Asië nie. Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe.

9. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek.

10. Dit is Hy wat ons van só ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting; Hy sal ons altyd weer red.

11. Daaraan werk julle saam deur ook vir ons te bid. Die gevolg is dat die gebede van baie mense ’n genadegawe vir ons bring en dat daar ook baie mense is wat Hom vir ons dank.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 1