hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Riglyne vir

huweliksverhoudings

1. En julle, vroue, julle moet julle eie mans se gesag oor julle aanvaar, selfs as hulle nie die Goeie Nuus glo nie. Sonder dat julle ’n woord hoef te sê, sal julle leefstyl hulle vir Christus wen.

2. Hulle sal immers sien hoe eerbiedig en onberispelik julle lewe.

3. Moenie dink dis bloot uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en pragtige klere wat julle mooi maak nie.

4. Julle skoonheid moet veral innerlik wees: blywende beskeidenheid en ’n gemoed wat kalm en rustig is. Dit is vir God kosbaar.

5. Dis presies hoe die gelowige vroue in die ou dae hulle mooi gemaak het. Hulle het op God gehoop en hulle mans se gesag oor hulle aanvaar.

6. Sara, byvoorbeeld, was aan haar man, Abraham, gehoorsaam deur hom “Meneer” te noem. Julle het haar dogters geword omdat julle doen wat goed is en julle nie laat afskrik deur enige intimidasie nie.

7. En julle, mans, behandel julle vroue met respek. Leef saam met jou vrou in die besef dat, al is sy fisiek swakker as jy, sy saam met jou deel in die lewe wat God as geskenk gee. As jy haar só behandel, sal jou gebede nie geblokkeer word nie.

Riglyne vir die verhouding met

die naaste in die algemeen

8. ’n Laaste woord oor julle verhoudings: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig.

9. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ’n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën.

10. Want die Skrif sê:“As jy die lewe wil liefhê en goeie dae wil beleef,moet jy jou tong weghou van kwaadpraaten jou lippe van leuens.

11. Bly weg van die kwaad af, ja, doen wat goed is.Soek vrede, ja, jaag dit na!

12. Die Here sorg vir dié wat reg doen,en Hy luister na hulle gebede.Maar die Here is teen dié wat kwaad doen.”

Nét Christus moet seggenskap

in julle lewe hê

13. Verder, wie sal julle sleg behandel as julle uit julle pad gaan om goed te doen?

14. Maar as dit inderdaad gebeur dat julle swaarkry omdat julle doen wat reg is, sal God sy seën op julle laat rus. Moet dus nie dat mense julle bangmaak of afskrik nie.

15. Inteendeel, erken in julle harte Christus as die een wat seggenskap het. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer.

16. Doen dit egter taktvol en eerbiedig. Sorg dat julle gewete skoon bly. Wanneer mense dan sleg van julle praat, sal hulle skaam kry wanneer hulle agterkom hoe voorbeeldig julle leefstyl is omdat julle aan Christus behoort.

17. Hou in gedagte: As God beskik dat julle moet ly omdat julle goeddoen, is dit beter as om te ly omdat julle kwaad doen.

Wees bemoedig: Christus hét

oorwin en regeer nou oor alles

18. Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie. Ook Christus het só gely toe Hy eens en vir altyd vir ons sondes gesterf het. Hy het nooit enige sonde gedoen nie; tog het Hy vir sondaars gesterf om julle by God te laat tuiskom. Wat sy liggaam betref, het Hy gesterf, maar wat sy gees betref,is Hy lewend gemaak.

19. Só het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en sy oorwinning daar aangekondig.

20. Hierdie geeste is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy baie geduldig met hulle was. Dit het gebeur in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net agt mense is uit die verskriklike vloed gered.

21. Die redding in die ark is ’n voorteken van die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop red julle deur die opstanding van Jesus Christus. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n pleit voor God dat jou gewete skoon bly.

22. Christus hét die hemel binnegegaan. Hy sit nou aan die regterhand van God, met die engele, magte en kragte onder sy beheer.