hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Elke gelowige moet groei deur

die regte geestelike voedsel in te

neem

1. Julle moet julleself distansieer van alle slegte gedrag, van elke vorm van valsheid, van voorgee wat julle nie is nie, van jaloesie en alle kwaadpratery.

2. Hiervoor moet julle genoeg geestelike melk inkry. Smag daarom na hierdie voeding soos pasgebore babatjies na hulle ma se melk sodat julle daardeur kan groei tot volwasse verlostes.

3. Julle het mos net ná julle weergeboorte klaar geproe hoe goed die Here is.

Julle plig om as medegelowiges

sáám te groei

4. Julle het na Christus toe gekom, Hy wat die lewende hoekklip is van God se geestelike tempel. Die mense het Hom afgekeur as hoekklip, maar God het Hom vir dié ereplek uitgekies.

5. Laat julle as lewende klippe inbou in God se geestelike tempel. Julle taak as tempel is om heilige priesters te wees wat geestelike offers bring. God aanvaar hierdie offers juis omdat Jesus Christus die hoekklip is.

6. Soos dit in die Skrif staan:“Ek lê in Sion ’n hoekklip,uitgekies vir dié ereplek.Elkeen wat op Hom vertrou,sal nóóit verneder word nie.”

7. Hierdie eer is dus bedoel vir julle wat glo. Vir dié wat egter nie glo nie, geld die volgende woorde:“Juis daardie klip wat deur die bouers afgekeur is,het die sluitklipvan die gebou geword.”

8. Die volgende Skrifdeel geld ook vir dié wat nie glo nie:“Hy is ’n klip waaroor mense struikel,’n rots wat jou laat val.”Hulle struikel omdat hulle nie aan God se woord gehoorsaam is nie. Hulle was vir hierdie struikeling bestem.

9. Dit geld egter nie vir julle nie, want God het júlle as sy volk gekies. Julle is ’n koninkryk wat uit priesters bestaan, ’n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ’n volk wat heeltemal God s’n is. Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het.

10. “Vroeër was julle nie ’n volk nie;nou is julle egter die volk vanGod.Vroeër het God geen ontfermingaan julle bewys nie;nou hét julle egter sy ontferming.”

Handhaaf ’n voorbeeldige

leefstyl teenoor die

nie-Christene

11. Geliefdes, omdat julle uitlanders en bywoners is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike neigings toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe.

12. Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra.

Respekteer die landsowerheid

en lééf kritici stil

13. Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar – die koning as staatshoof

14. én die amptenare wat die koning benoem het. Die koning het ’n mandaat aan hulle gegee om dié wat kwaad doen, te straf, en erkenning te gee aan dié wat goeddoen.

15. Dit is God se wil dat julle goeie gedrag die mense wat uit onkunde van julle kwaadpraat, sal stilmaak.

16. Dis waar: Julle is nie slawe nie; julle ís vry mense. Maar moenie julle vryheid as dekmantel misbruik om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God se diensknegte te wees.

17. Julle moet alle mense respekteer. Julle moet al die lede van die huisgesin van God liefhê. Betoon ontsag aan God. Respekteer die koning.

Huiswerkers moet soos Christus

onbillike behandeling verdra

18. Huiswerkers, julle moet die gesag van julle werkgewers volledig aanvaar. Dóén wat hulle vir julle sê – of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik.

19. Dit is immers genade as jy, omdat jy in gedagte hou wat God wil hê, onverdiende houe vat, al maak dit jou seer.

20. Daar is natuurlik geen verdienste daarin as julle die houe vat vir ’n oortreding nie. Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dít is iets besonders voor God.

21. Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Volg in sý spore.

22. Hy het nooit sonde gedoen en geen leuen vertel nie.

23. Toe Hy beledig is, het Hy nie terugbeledig nie; toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie. Hy het alles oorgelaat aan God wat altyd regverdig oordeel.

24. Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Só is ons vry van die sonde. Nou kan ons lewe omdat God ons verhouding met Hom herstel het. Deur sý wonde is julle genees!

25. Vroeër was julle soos verdwaalde skape. Nou het God julle egter teruggebring na julle Herder, die Bewaker van julle lewe.