Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 52:14-32 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. Die hele leër van die Kasdeërs wat by die bevelvoerder van die lyfwag was, het al die mure van Yerushalayim reg rondom afgebreek.

15. Toe het N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die lyfwag, van die armstes van die volk, die res wat in die stad agtergebly het, die oorlopers wat na die koning van Bavel oorgeloop het en die res van die vakmanne, in ballingskap weggevoer,

16. maar N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die lyfwag, het sommige van die armstes van die land laat agterbly as wynboere en as landbouers.

17. Die Kasdeërs het die koper pilare wat in die huis van יהוה was, die staanders en die koper see wat in die huis van יהוה was, stukkend gebreek en al die koper daarvan na Bavel weggedra.

18. Hulle het ook die potte, die grawe, die kerssnuiters, die komme, die panne en al die koper gereedskap gevat wat in die diens gebruik is.

19. Die bevelvoerder van die lyfwag het ook die skottels, die vuurpanne, die komme, die potte, die kandelare, die panne en die drankoffer skottels, wat van suiwer goud en van suiwer silwer was, gevat en

20. die twee pilare, die see en die twaalf koper bulle, wat onder die see was en die staanders wat koning Shlomo vir die huis van יהוה gemaak het; die koper van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie.

21. Wat die pilare betref, die hoogte van een pilaar was agttien el en dit was twaalf el in omtrek en vier vingers dik, dit was hol.

22. ’n Pilaarkop van koper was daarop en die hoogte van een pilaarkop was vyf el, met vlegwerk en granate op die pilaarkop reg rondom, alles van koper en die tweede pilaar was net so, insluitend die granate.

23. Daar was ses en negentig granate sigbaar; al die granate op die vlegwerk was ’n honderd, reg rondom.

24. Toe het die bevelvoerder van die lyfwag vir S’rayah, die hoofpriester en vir Tz’fanyah, die tweede priester en die drie drumpelwagters gevat.

25. Hy het ook uit die stad uit ’n amptenaar gevat wat opsigter oor die krygsmanne was en sewe van die koning se raadgewers, wat in die stad gevind is en die skrywer van die bevelvoerder van die leër wat die mense van die land opgeroep het en sestig man van die mense van die land wat in die stad gevind is.

26. N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die lyfwag, het hulle gevat en hulle na die koning van Bavel, in Rivlah gebring.

27. Toe het die koning van Bavel hulle neergeslaan en hulle gedood in Rivlah, in die land van Hamat. So is Y’hudah uit sy land in ballingskap uitgelei.

28. Hierdie is die mense wat N’vukhadnetzar in ballingskap weggevoer het: in die sewende jaar, drie duisend, drie en twintig (3023) Y’hudahiete;

29. in die agttiende jaar van N’vukhadnetzar, agt honderd twee en dertig mense uit Yerushalayim;

30. in die drie en twintigste jaar van N’vukhadnetzar het N’vuzar’adan, die bevelvoerder van die lyfwag, sewe honderd vyf en veertig Jode in ballingskap weggevoer; daar was vier duisend ses honderd in totaal.

31. Dit het gebeur in die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van Y’hoyakhin, koning van Y’hudah, in die twaalfde maand, op die vyf en twintigste van die maand dat `Eveel-M’rodakh, koning van Bavel, in die eerste jaar van regering, guns bewys het aan Y’hoyakhin, koning van Y’hudah en hom uit die tronk uitgebring het.

32. Hy het goedhartig met hom gepraat en sy stoel bokant die stoele van die konings gesit wat by hom in Bavel was.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 52