Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 3:6-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. Toe het יהוה vir my in die dae van koning Yoshiyahu gesê: “Het jy gesien wat die ontroue Yisra’el gedoen het? Sy het opgegaan en op elke hoë heuwel en onder elke groen boom hoereer.

7. Ek het gedink: ‘Nadat sy dit alles gedoen het sal sy terugdraai na My toe,’ maar sy het nie teruggedraai nie en haar boosheid is deur haar suster, Y’hudah, gesien.

8. Sy het al Yisra’el se boosheid gesien en omdat Yisra’el se inwoners hoerery gepleeg het, het Ek haar weggestuur en aan haar ’n skeibrief gegee; tog het haar perverse suster, Y’hudah, nie gevrees nie, maar het gegaan en ook hoereer.

9. Haar hoerery was so oordadig dat sy die land besoedel en owerspel gepleeg het met afgode van klip en hout.

10. Nogtans, ten spyte van dit alles, het haar misleidende suster, Y’hudah, nie met haar hele verstand, wil en emosie na My toe terug gedraai nie, maar net met valsheid,” verklaar יהוה.

11. יהוה het vir my gesê: “Ontroue Yisra’el het haarself meer regverdig as haar perverse suster, Y’hudah.

12. Gaan en verkondig hierdie woorde na die noorde toe en sê: ‘Draai terug, inwoners van Yisra’el,’ verklaar יהוה; ‘Ek sal nie na jou kyk in woede nie, want Ek is goedgunstig,’ verklaar יהוה; ‘Ek sal nie vir ewig kwaad wees nie.

13. Erken slegs jou onregverdigheid dat jy teen יהוה, jou God, oortree het en jou gunste versprei het na die vreemdelinge onder elke groen boom en jy nie My stem gehoorsaam het nie,’ verklaar יהוה.

14. Erken en draai terug, o afvallige seuns,’ verklaar יהוה, ‘want Ek is ’n Meester vir julle en Ek sal julle vat, een uit ’n stad en twee uit ’n familie en Ek sal julle na Tziyon toe bring.

15. Dan sal Ek vir julle herders gee na My eie verstand, wil en emosie, wat julle sal voed met kennis en begrip.Open 11:19

16. Dit sal wees in daardie dae, wanneer julle vermenigvuldig en vermeerder het in die land,’ verklaar יהוה, ‘dat hulle nie meer sal sê: ‘Die ark van die verbond van יהוה’ nie. Dit sal nie in die gedagtes opkom nie, ook sal hulle dit nie onthou nie, ook nie mis nie en dit sal nie weer gemaak word nie.

17. In dié tyd sal hulle Yerushalayim noem, ‘die troon van יהוה’ en al die nasies sal daar, by Yerushalayim, bymekaar gebring word, vanweë die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה en hulle sal ook nie meer agter die hardnekkigheid van hul bose verstand, wil en emosie aanloop nie.

18. In daardie dae sal die huis van Y’hudah saam met die huis van Yisra’el loop en hulle sal saam vanuit die land van die noorde kom na die land wat Ek aan julle vaders as erfenis gegee het.

19. Toe het Ek gedink hoe Ek jou sal vestig tussen My seuns en aan jou ’n aangename land sal gee, die mooiste erfenis van die nasies! Ek het ook gedink: ‘Jy sal My noem: My Vader en nie wegdraai daarvan om My te volg nie.’

20. Beslis, soos ’n vrou ontrou weggaan van haar minnaar, so het julle ontrou met My gehandel, o huis van Yisra’el,” verklaar יהוה.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 3