Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 16:9-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

9. Aharon moet die bok waarop die lot vir יהוה gekom het naderbring en hom as sondoffer offer.

10. Die bok waarop die lot vir `Az’azel gekom het, moet lewendig voor יהוה aangebied word, om daardeur toedekking te doen, deur hom, as die bok vir volledige verwydering, die wildernis in te stuur.

11. Aharon moet die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat naderkom en vir hom en sy huis toedekking doen: hy moet die bul as sondoffer doodmaak vir homself.

12. Hy moet ’n vuurpan vol brandende kole van die altaar voor יהוה vat, met sy twee hande vol fyn gestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die verdelingsgordyn bring.

13. Hy moet die reukwerk op die vuur sit voor die Teenwoordigheid van יהוה sodat die wolk van die reukwerk die Toedekking wat op die Getuienis is, kan toemaak sodat hy nie sterf nie.

14. Hy moet van die bloed van die bul vat en dit met sy vinger op die Toedekking aan die oostekant sprinkel en voor die Toedekking moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel.

15. Hy moet die bok van die sondoffer doodmaak wat vir die volk bedoel is en sy bloed binnekant die verdelingsgordyn bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die Toedekking en voor die Toedekking.

16. So moet hy vir die Afgesonderde plek toedekking doen vanweë die onreinheid van die seuns van Yisra’el en vanweë hulle oortredinge, vir al hulle sondes en so moet hy dit ook doen vir die Tent van Ontmoeting wat tussen hulle onreinheid bly.

17. Niemand mag in die Tent van Ontmoeting wees as hy ingaan om in die Afgesonderde plek toedekking te doen totdat hy uitkom, nie. Hy moet toedekking doen vir homself, vir sy huis en vir die hele vergadering van Yisra’el.

18. Hy moet na die altaar uitgaan wat voor יהוה is en daarvoor toedekking doen: hy moet van die bloed van die bul en van die bloed van die bok vat en dit rondom aan die horings van die altaar smeer

19. en met sy vinger van die bloed sewe maal daarop sprinkel en dit reinig en afsonder van die onreinheid van die seuns van Yisra’el.

20. Wanneer hy die toedekking van die Afgesonderde plek, die Tent van Ontmoeting en die altaar voltooi het, moet hy die lewendige bok laat naderkom

21. en Aharon moet sy twee hande op die kop van die lewende bok lê en oor hom belydenis doen van al die skuld van die seuns van Yisra’el, al hulle wetsoortredinge, al hulle sondes en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur die hand van ’n man wat daar gereed staan, in die wildernis instuur

22. en hy moet die bok in die wildernis vrylaat. Die bok sal al hulle skuld na ’n eensame land wegdra.

23. Aharon moet inkom in die Tent van Ontmoeting en die linne klere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die Afgesonderde plek ingegaan het en dit daar los.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 16