Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 19:1-17 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. In die derde maand nadat die kinders van Yisra’el uit die land van Mitzrayim uitgegaan het, op dieselfde dag, het hulle in die wildernis van Sinai gekom.

2. Hulle het van Refidim af opgebreek, in die wildernis van Sinai gekom en in die wildernis kamp opgeslaan. Yisra’el het daar voor die berg kamp opgeslaan.

3. Moshe het opgeklim na God toe en יהוה het uitgeroep na hom van die berg af en gesê: “So moet jy vir die huis van Ya’akov sê en aan die seuns van Yisra’el vertel:

4. Julle het gesien wat Ek aan die Mitzrayiete gedoen het en hoe Ek julle op arendsvlerke gedra en na My toe gebring het;

5. daarom, as julle My stem sal gehoorsaam en My verbond nakom, sal julle ’n spesiale skat vir My bo al die volke wees, want die hele aarde is Myne.1 Yog 2:3

6. Júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n afgesonderde nasie wees. Hierdie is die woorde wat jy vir die seuns van Yisra’el moet sê.”1 Kef 2:5,9; Open 5:10; Open 20:6

7. Moshe het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat יהוה hom beveel het.

8. Die hele volk het saam geantwoord en gesê: “Alles wat יהוה gesê het, sal ons doen.” Moshe het die woorde van die volk teruggevat na יהוה toe.

9. יהוה het met Moshe gepraat: “Let op, Ek kom na jou toe in ’n dik wolk sodat die volk kan hoor as Ek met jou praat en jou vir altyd vertrou.” Toe het Moshe die woorde van die volk aan יהוה oorgedra.

10. יהוה het ook vir Moshe gesê: “Gaan na die volk toe en sonder hulle vandag en môre af en laat hulle hul klere was

11. en gereed wees vir die derde dag, want op die derde dag sal יהוה voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afkom.

12. Jy moet ook vir die volk grense rondom stel en sê: ‘Pas op dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, sal sekerlik doodgemaak word.’

13. Geen hand mag aan hom raak nie, maar hy moet gestenig word met klippe of met ’n pyl geskiet word; of dit ’n dier of ’n mens is; hy mag nie lewe nie. As die ramshoring ’n lang geluid blaas, mag hulle opgaan na die berg.”

14. Moshe het van die berg af na die volk toe gegaan en die volk afgesonder en hulle het hul klere gewas.

15. Hy het vir die volk gesê: “Wees gereed vir die derde dag; moenie by julle vrouens kom nie.”

16. Dit het op die derde dag, met die breek van die dag, gebeur dat daar harde stemme en weerlig en ’n swaar wolk op die berg was en die klank van ’n baie harde ramshoring sodat die hele volk wat in die kamp was, gebewe het.

17. Moshe het die volk uit die kamp uitgelei om God te ontmoet en hulle het gaan staan by die voet van die berg.Hand 2:1-3

Lees volledige hoofstuk Eksodus 19