Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 10:8-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Moshe en Aharon is teruggebring na Farao toe en hy sê vir hulle: “Gaan, dien יהוה, julle God. Wie is dit wat gaan?

9. Moshe antwoord: “Ons sal gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste sal ons gaan, want ons moet ’n fees hou vir יהוה.”

10. Hy sê vir hulle: “יהוה is met julle as ek ooit julle en julle kinders sal laat gaan! Let op, want die bose is in julle gedagtes.

11. Nie so nie! Gaan nou, julle manne en dien יהוה, want dít is wat julle begeer het.” Hulle is uit Farao se teenwoordigheid uitgedryf.

12. יהוה sê vir Moshe: “Steek jou hand uit oor die land van Mitzrayim vir die sprinkane sodat hulle kan opkom oor die land van Mitzrayim en al die plante van die land opeet, alles wat die hael laat oorbly het.”

13. Moshe het sy staf oor die land van Mitzrayim uitgesteek en יהוה het ’n oostewind in die land gebring, daardie hele dag en die hele nag; toe dit oggend word, het die oostewind die sprinkane gebring.

14. Die sprinkane het opgekom oor die hele land van Mitzrayim en op die hele gebied van Mitzrayim gaan sit; uitermatige hoeveelhede. Daar was voor dit nie so ’n sprinkaanswerm nie en daarna sou daar ook nie so iets wees nie.

15. Hulle het die oppervlakte van die hele land bedek sodat die land donker was en hulle het al die plante van die land en al die vrugte van die bome, wat die hael laat oorbly het, opgeëet; daar het geen groenigheid aan die bome of plante van die veld in die hele land van Mitzrayim oorgebly nie.

16. Farao het haastig vir Moshe en Aharon laat roep en gesê: “Ek het gesondig teen יהוה, julle God en teen julle;

17. daarom, vergeef nou asseblief net dié keer my sonde en tree in by יהוה, julle God sodat Hy slegs hierdie dood van my af wegvat.”

18. Hy het van Farao af weggegaan en ingetree by יהוה.

19. יהוה laat die wind omswaai in ’n baie sterk westewind, wat die sprinkane weggevat en hulle in die Rooisee gedryf het. Daar het nie een sprinkaan in die hele gebied van Mitzrayim oorgebly nie.

20. יהוה het Farao se wil, emosie en verstand onveranderlik gemaak en hy het die seuns van Yisra’el nie laat gaan nie.

21. יהוה het vir Moshe gesê: “Steek jou hand uit na die hemele toe en daar sal duisternis oor die land van Mitzrayim kom; duisternis wat ’n mens selfs kan voel.”

22. Moshe het sy hand uitgesteek na die hemele en daar was ’n dik duisternis oor die hele land van Mitzrayim vir drie dae lank.

23. Hulle het mekaar nie gesien nie en niemand het van sy plek af opgestaan vir drie dae nie, maar al die kinders van Yisra’el het lig in hulle huise gehad.

24. Farao het Moshe laat roep en gesê: “Gaan heen, dien יהוה; net julle kleinvee en julle beeste moet agtergehou word. Selfs julle kinders kan met julle saamgaan.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 10