Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 12:15-30 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

15. Jy mag egter binne jou poorte slag en vleis eet, net soos jy begeer, volgens die seën wat יהוה, jou God, jou gegee het; die onreine en die reine mag daarvan eet, net soos van die rooibok (gasel) en die takbok.

16. Net die bloed mag julle nie eet nie; jy moet dit soos water op die grond uitgooi.

17. Jy mag nie binne jou poorte die tiendes van jou koring, jou nuwe wyn, jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee en enige van jou geloftes wat jy sal belowe, jou vrywillige offers en die bydrae van jou hand, eet nie,

18. maar jy moet dit eet voor die Teenwoordigheid van יהוה, jou God, op die plek wat יהוה, jou God, sal kies, jy, jou seun, jou dogter, jou slaaf, jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is en jy moet vol vreugde wees voor die Teenwoordigheid van יהוה, jou God, in al jou ondernemings.

19. Wees versigtig dat jy nie die Leviet in die steek laat, solank as jy in jou land lewe nie.

20. Wanneer יהוה, jou God, jou grondgebied vergroot, soos Hy jou belowe het en jy sê: ‘Ek wil vleis eet’ omdat jou liggaam begeer om vleis te eet, dan mag jy net soveel vleis eet as wat jou liggaam begeer.

21. As die plek wat יהוה, jou God, sal kies om Sy Naam (Karakter en Outoriteit) te vestig, te ver van jou af is, dan mag jy van jou beeste en jou kleinvee slag wat יהוה jou gee, soos ek jou beveel het en jy mag in jou poorte eet soveel as jy begeer;

22. soos die rooibok en die takbok geëet word, so moet jy dit eet; die onreine en die reine mag daarvan eet.

23. Wees onveranderlik daarin dat jy nie die bloed eet nie, want die bloed is die lewe en jy mag die lewe nie saam met die vleis eet nie.

24. Jy mag dit nie eet nie; jy moet dit op die grond uitgooi soos water.

25. Jy mag dit nie eet nie sodat dit met jou en jou seuns ná jou goed kan gaan as jy doen wat reg is in die oë van יהוה.Lev 17:3-7; Deut 15:19-23

26. Net die afgesonderde dinge wat jy het en jou geloftes moet jy vat na die plek wat יהוה sal kies

27. en jy moet jou brandoffers, die vleis en die bloed, offer op die altaar van יהוה, jou God en die bloed van jou offers moet teen die altaar van יהוה, jou God, uitgegooi word, maar die vleis kan jy eet.

28. Let op en gehoorsaam al hierdie woorde wat ek jou beveel sodat dit met jou en jou seuns ná jou goed kan gaan, vir altyd, as jy doen wat goed en reg is in die oë van יהוה, jou God.

29. Wanneer יהוה, jou God, die nasies waarheen jy gaan, om hulle te onteien, voor jou afsny en jy hulle onteien het en in hulle land bly,

30. let op dat jy nie in die strik val om hulle te volg nadat hulle voor jou uit vernietig is nie en dat jy nie na hulle gode vra en sê: ‘Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien sodat ek dit ook so kan doen?’ nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 12