Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 12:11-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

11. dan sal die plek waar יהוה, julle God, sal uitkies om Sy Naam (Karakter en Outoriteit) te vestig, daar wees. Daarheen moet julle alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers, julle slagoffers, julle tiendes, die bydraes van julle hand en al julle spesiale offers wat julle aan יהוה as gelofte gee.

12. Julle moet julle verheug voor die Teenwoordigheid van יהוה, julle God, julle, julle seuns, julle dogters, julle slawe, julle slavinne en die Leviet, wat in julle poorte is, want hy het geen deel of erfenis saam met julle nie.

13. Wees versigtig dat jy nie jou brandoffers bring op elke kultiese plek wat jy sien nie,

14. maar op die plek wat יהוה in een van jou stamme sal kies, waar jy jou brandoffers moet offer en daar sal jy alles doen wat ek jou beveel.

15. Jy mag egter binne jou poorte slag en vleis eet, net soos jy begeer, volgens die seën wat יהוה, jou God, jou gegee het; die onreine en die reine mag daarvan eet, net soos van die rooibok (gasel) en die takbok.

16. Net die bloed mag julle nie eet nie; jy moet dit soos water op die grond uitgooi.

17. Jy mag nie binne jou poorte die tiendes van jou koring, jou nuwe wyn, jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee en enige van jou geloftes wat jy sal belowe, jou vrywillige offers en die bydrae van jou hand, eet nie,

18. maar jy moet dit eet voor die Teenwoordigheid van יהוה, jou God, op die plek wat יהוה, jou God, sal kies, jy, jou seun, jou dogter, jou slaaf, jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is en jy moet vol vreugde wees voor die Teenwoordigheid van יהוה, jou God, in al jou ondernemings.

19. Wees versigtig dat jy nie die Leviet in die steek laat, solank as jy in jou land lewe nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 12