Ou Testament

Nuwe Testament

Dani'el 5:4-15 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, koper, yster, hout en klip groot gemaak.

5. Op daardie oomblik het die vingers van ’n man se hand verskyn en oorkant die kandelaar op die pleister van die muur van die koninklike paleis geskryf en die koning het die palm van die hand gesien wat geskryf het.

6. Toe het die voorkoms van die koning verander en sy gedagtes het hom gepla, die gewrigte van sy heupe het losgeraak en sy knieë het teen mekaar geslaan.

7. Toe het die koning hardop uitgeroep dat die sterrekundiges, die Kasdeërs en die voorspellers in gebring moet word. Die koning het gepraat en vir die wyse manne van Bavel gesê: “Wie ook al hierdie skrif kan lees en vir my die betekenis daarvan kan wys, sal in purper geklee word en ’n goue ketting sal om sy nek wees en hy sal heers oor ’n derde van die koninkryk.”

8. Toe het al die wyse manne van die koning ingekom, maar hulle kon nie die skrif lees of die betekenis daarvan aan die koning bekend maak nie.

9. Toe was koning Belshatzar baie gespanne en sy voorkoms het verander en sy prinse was verwilderd.

10. Na aanleiding van die gesprekke van die koning en sy prinse, het die koningin in die eetsaal ingegaan en sy het gepraat en vir die koning gesê: “O, koning, leef vir ewig! Laat u gedagtes u nie omkrap en u voorkoms nie verander nie.

11. Daar is ’n man in u koninkryk in wie die Gees van die Afgesonderde God is en in die dae van u vader is lig, insig en wysheid soos die wysheid van die gode in hom gevind sodat u vader, koning N’vukhadnetzar, hom as hoof van die towenaars, die sterrekundiges, die voorspellers en die Kasdeërs aangestel het,

12. as gevolg van sy geestelike krag, kennis en insig wat hy het om drome uit te lê, spreuke uit te dink en raaisels op te los; hy is Dani’el aan wie die koning die naam van Belt’shatzar gegee het. Nou, laat Dani’el geroep word en hy sal die betekenis gee.”

13. Toe het Dani’el voor die koning ingekom en die koning het gepraat en vir Dani’el gevra: “Is jy Dani’el, vanaf die ballinge van Y’hudah, wat die koning, my vader, uit Y’hudah gebring het?

14. Ek het van jou gehoor, dat die Gees van die Afgesonderde God in jou is en dat lig, insig en uitsonderlike wysheid in jou gevind word.

15. Die towenaars en sterrekundiges is nou net voor my gebring om hierdie skrif vir my te lees en die betekenis daarvan aan my bekend te maak, maar hulle kon nie die betekenis daarvan vir my gee nie.

Lees volledige hoofstuk Dani'el 5