hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Dani'el 5 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Belshatzar, die koning, het ’n groot feesmaal vir ’n duisend van sy prinse gehou en in die teenwoordigheid van die duisend wyn gedrink.

2. Belshatzar het terwyl hy wyn gedrink het, bevel gegee dat die goue en silwer voorwerpe, wat sy vader N’vukhadnetzar uit die tempel van Yerushalayim gevat het, gebring word sodat die koning en sy prinse, sy vroue en sy byvroue daaruit kon drink.

3. Toe het hulle die goue voorwerpe gebring wat uit die tempel van God, wat in Yerushalayim is, gevat is en die koning, sy prinse, sy vroue en sy byvroue het daaruit gedrink.

4. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, koper, yster, hout en klip groot gemaak.

5. Op daardie oomblik het die vingers van ’n man se hand verskyn en oorkant die kandelaar op die pleister van die muur van die koninklike paleis geskryf en die koning het die palm van die hand gesien wat geskryf het.

6. Toe het die voorkoms van die koning verander en sy gedagtes het hom gepla, die gewrigte van sy heupe het losgeraak en sy knieë het teen mekaar geslaan.

7. Toe het die koning hardop uitgeroep dat die sterrekundiges, die Kasdeërs en die voorspellers in gebring moet word. Die koning het gepraat en vir die wyse manne van Bavel gesê: “Wie ook al hierdie skrif kan lees en vir my die betekenis daarvan kan wys, sal in purper geklee word en ’n goue ketting sal om sy nek wees en hy sal heers oor ’n derde van die koninkryk.”

8. Toe het al die wyse manne van die koning ingekom, maar hulle kon nie die skrif lees of die betekenis daarvan aan die koning bekend maak nie.

9. Toe was koning Belshatzar baie gespanne en sy voorkoms het verander en sy prinse was verwilderd.

10. Na aanleiding van die gesprekke van die koning en sy prinse, het die koningin in die eetsaal ingegaan en sy het gepraat en vir die koning gesê: “O, koning, leef vir ewig! Laat u gedagtes u nie omkrap en u voorkoms nie verander nie.

11. Daar is ’n man in u koninkryk in wie die Gees van die Afgesonderde God is en in die dae van u vader is lig, insig en wysheid soos die wysheid van die gode in hom gevind sodat u vader, koning N’vukhadnetzar, hom as hoof van die towenaars, die sterrekundiges, die voorspellers en die Kasdeërs aangestel het,

12. as gevolg van sy geestelike krag, kennis en insig wat hy het om drome uit te lê, spreuke uit te dink en raaisels op te los; hy is Dani’el aan wie die koning die naam van Belt’shatzar gegee het. Nou, laat Dani’el geroep word en hy sal die betekenis gee.”

13. Toe het Dani’el voor die koning ingekom en die koning het gepraat en vir Dani’el gevra: “Is jy Dani’el, vanaf die ballinge van Y’hudah, wat die koning, my vader, uit Y’hudah gebring het?

14. Ek het van jou gehoor, dat die Gees van die Afgesonderde God in jou is en dat lig, insig en uitsonderlike wysheid in jou gevind word.

15. Die towenaars en sterrekundiges is nou net voor my gebring om hierdie skrif vir my te lees en die betekenis daarvan aan my bekend te maak, maar hulle kon nie die betekenis daarvan vir my gee nie.

16. Ek het van jou gehoor dat jy betekenisse kan gee en probleme oplos. As jy nou hierdie skrif kan lees en die betekenis daarvan aan my bekend maak, sal jy met purper aangetrek word en ’n goue ketting sal om jou nek wees en jy sal heers oor ’n derde van die koninkryk.”

17. Toe het Dani’el geantwoord en vir die koning gesê: “Hou u geskenke vir uself en gee die eer van u huis vir ander, maar ek sal die skrif vir die koning lees en die betekenis daarvan aan hom bekend maak.

18. O koning, die Allerhoogste God het aan u vader, N’vukhadnetzar, ’n koninkryk, majesteit, eer en lof gegee

19. en as gevolg van die grootheid wat Hy aan hom gegee het, het al die volke, nasies en tale gebewe en hom gevrees; wie hy wou, het hy gedood en wie hy wou, het hy laat lewe en wie hy wou, het hy verhoog en wie hy wou, het hy verneder,

20. maar toe sy binneste opgelig was en sy trots vermeerder het, is hy van sy koninklike troon afgestoot en die lof en eer het van hom weggegaan.

21. Hy is weggedryf van mense af en sy hart het soos dié van die diere geword en hy het saam met die wilde donkies gebly; hulle het hom gras laat eet soos ’n jong bul en sy liggaam was nat met die dou van die hemel totdat sy hare gegroei het soos ’n arend se vere en sy naels soos voëlkloue totdat hy verstaan het dat die Allerhoogste God in die koninkryk van die mens heers en Hy dit gee aan wie Hy wil en hom daaroor aanstel,Yir 51:9

22. maar u, sy seun, o Belshatzar, het uself nie verneder nie, alhoewel u al hierdie dinge weet,

23. maar u het uself opgelig teen die Meester van die hemel en die voorwerpe van Sy huis het hulle voor u gebring en u en u prinse, u vroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink en u het die gode van silwer, goud, koper, yster, hout en klip geprys, wat nie sien of hoor of weet nie en die God in Wie se hand u asem en u lewenshandel is, Hom het u nie opgelig of vereer nie.

24. Toe is die palm van die hand uit Sy Teenwoordigheid uitgestuur en hierdie skrif is geskrywe.

25. Dit is die skrif wat geskrywe is: M’ne, m’ne. T’kel ufarsín (Ar. stam = P’res).

26. Hierdie is die betekenis van die woorde: M’ne - God het u koningskap afgetel en dit tot ’n einde gebring.Ps 62:10

27. T’kel - u is geweeg op die weegskaal en te lig bevind.Yir 51:11

28. P’res - u koninkryk is verdeel en aan die Mede en Perse gegee.

29. Toe het Belshatzar bevel gegee en hulle het Dani’el met purper aangetrek, met ’n goue ketting om sy nek en ’n proklamasie aangaande hom gemaak dat hy oor ’n derde van die koninkryk sou heers.

30. In daardie nag is Belshatzar, die koning van die Kasdeërs, doodgemaak

31. en Daryavesh, die Meder, het die koninkryk oorgevat. Hy was ongeveer twee en sestig jaar oud.