Ou Testament

Nuwe Testament

2 Sh'mu'el 18:15-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

15. Tien jongmanne wat Yo’av se wapens gedra het, het nadergekom en Avshalom gesteek en hom gedood.

16. Toe blaas Yo’av die ramshoring en die manne het teruggedraai daarvan om Yisra’el te agtervolg, want Yo’av het die manne teruggehou.

17. Hulle het Avshalom gevat en hom in die woud in ’n groot put gegooi en ’n baie groot hoop klippe bo-op hom gestapel en die hele Yisra’el het gevlug, elkeen na sy tent.

18. Tydens sy leeftyd het Avshalom ’n gedenksteen in die koningsvallei opgerig vir homself, want, het hy gesê: “Ek het geen seun om my naam te bewaar nie.” Hy het die gedenksteen na homself vernoem en dit word tot vandag toe die gedenkteken van Avshalom genoem.

19. Daarop sê Agima’atz, die seun van Tzadok: “Laat my asseblief hardloop en aan die koning die boodskap bring dat יהוה hom bevry het van die hand van sy vyande.”

20. Yo’av sê egter vir hom: “Jy is nie die man om vandag ’n boodskap te dra nie, maar jy kan anderdag ’n boodskap dra, maar jy sal geen boodskap vandag dra nie omdat die seun van die koning dood is.”

21. Toe sê Yo’av vir die Kushiet: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het!” Die Kushiet het voor Yo’av gebuig en gehardloop.

22. Agima’atz, die seun van Tzadok, het weer ’n keer vir Yo’av gesê: “Wat ook al gebeur, laat my asseblief ook agter die Kushiet aan hardloop.” Yo’av vra: “Waarom wil jy hardloop, my seun, aangesien jy geen beloning sal ontvang as jy gaan nie?”

23. “Maar wat ook al gebeur,” sê hy, “ek sal hardloop.” Hy antwoord hom toe: “Hardloop!” Toe hardloop Agima’atz met die vlakte langs en steek die Kushiet verby.

24. Dawid het tussen die twee poorte gesit en die wag het opgegaan na die dak van die poort op die muur en sy oë opgeslaan en let op, ’n man wat alleen hardloop.

25. Die wag het uitgeroep en die koning vertel en die koning sê: “As hy alleen is, dan is daar ’n goeie boodskap in sy mond.” Hy het ál nader en nader gekom.

26. Toe sien die wag ’n ander man hardloop en die wag het na die poortwag geroep en gesê: “Let op, daar hardloop nog ’n man op sy eie. Die koning sê: “Hierdie een bring ook ’n goeie boodskap.”

Lees volledige hoofstuk 2 Sh'mu'el 18