Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:1-11 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Dit het ná hierdie dinge gebeur dat Navot, ’n Yizre’eliet, in Yizre’el ’n wingerd gehad het, wat langs die paleis van Ag’av, koning van Shomron, was.

2. Ag’av het met Navot gepraat en gesê: “Gee vir my jou wingerd sodat ek dit as ’n groentetuin kan hê, want dit is naby, langs my huis en ek sal vir jou ’n beter wingerd gee in sy plek; as jy wil, sal ek vir jou die prys daarvan in geld gee.”

3. Navot het egter vir Ag’av gesê: “יהוה verbied dat ek die erfenis van my vaders vir u sou gee!”

4. Ag’av het stuurs en vererg in sy huis gekom oor die woord wat Navot, die Yizre’eliet, met hom gepraat het, want hy het gesê: “Ek sal nie vir u die erfenis van my vaders gee nie.” Hy het op sy bed gaan lê, sy gesig weggedraai en geen kos geëet nie.

5. Izevel, sy vrou, het egter by hom gekom en vir hom gesê: “Waarom is jou gees so stuurs dat jy geen kos eet nie?”

6. Hy antwoord haar: “Omdat ek met Navot, die Yizre’eliet, gepraat en vir hom gesê het: ‘Gee vir my jou wingerd vir geld, of anders, as jy wil, sal ek vir jou ’n wingerd in die plek daarvan gee,’ maar hy het gesê: ‘Ek sal nie my wingerd vir u gee nie.”

7. Izevel, sy vrou, sê vir hom: “Heers jy nie nou oor Yisra’el nie? Staan op, eet brood en laat jou hart vrolik wees; ek sal vir jou die wingerd van Navot, die Yizre’eliet, gee.”

8. Sy het briewe in die naam van Ag’av geskryf en hulle met sy seël verseël en die briewe aan die oudstes en die edeles, wat by Navot in sy stad gebly het, gestuur.

9. Sy het in die briewe geskryf en gesê: “Roep ’n vasdag uit en sit Navot aan die hoof van die mense

10. en sit twee manne, deugniete, voor hom en laat hulle teen hom getuig en sê: ‘Jy het God en die koning gevloek!’ Vat hom dan uit en stenig hom tot die dood.”

11. Die manne van sy stad, die oudstes en die edeles wat in sy stad gebly het, maak toe soos Izevel hulle laat weet het, net soos dit geskryf was in die briewe wat sy vir hulle gestuur het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21