hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 1 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Vanaf Sha’ul, ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, deur die wil van God en vanaf die broer Timotheos;

2. aan die afgesonderdes en broers wat vertrou in Yeshua, Die Gesalfde Een, wat in Kolossus is: onverdiende guns vir julle en vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed van God-ons-Vader!

3. Ons dank God, die Vader van ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een, elke keer as ons vir julle bid,

4. vandat ons gehoor het van julle vertroue in Yeshua, Die Gesalfde Een en julle liefde vir al die afgesonderdes,

5. as gevolg van die versekerde verwagting wat vir julle opsy gesit is in die hemel, waarvan julle van die begin af gehoor het in die boodskap van waarheid van die goeie nuus.

6. Dit wat aan julle, sowel as aan die hele wêreld, verkondig is, wat groei en vrugbaar is, net soos onder julle, van die dag af dat julle dit gehoor het en geleer is van die onverdiende guns van God in waarheid;

7. soos wat julle geleer het van Epafras, ons medeslaaf vir wie ons lief is, wat ’n vertouenswaardige bedienaar van Die Gesalfde Een vir julle is,

8. wat ook vir ons vertel het van julle liefde in die Gees.Efe 3:16-19

9. As gevolg hiervan hou ons ook nie op om, vanaf die dag dat ons dit gehoor het, vir julle te bid nie en te vra dat julle volledig gemaak mag word met die kennis van Sy wil in alle wysheid en begrip van die Gees

10. sodat julle mag leef volgens wat reg is, God in alle goeie dade tevrede stel en julle vrug mag dra en vermeerder in die kennis van God

11. en dat julle met alle krag versterk sal word volgens die grootheid van Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid, om in alles uit te hou en geduldig te wees met blydskap.Yog 1:7,9

12. Dank God-die-Vader wat ons waardig gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die afgesonderdes in die lig.

13. Hy het ons gered uit die outoriteit van die duisternis en ons gebring na die Koninkryk van Sy Seun, wat Hy liefhet,

14. in Wie vir ons verlossing en vergifnis van sondes is.

15. Hy, wat die afbeelding is van die onsigbare God, die Eersgeborene van alles wat geskep is.

16. Deur Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, of dit nou trone of heerskappye of heersers of outoriteite is, alle dinge is deur Hom en vir Hom geskep.Yog 1:1-5,10; Heb 1:2

17. Hy Is die Een wat voor alle dinge is en alles bestaan deur Hom.

18. Hy Is die Hoof van die liggaam, wat die gemeente is. Hy is die Hoof en die Eersgeborene uit die dood sodat Hy in alles die Eerste kan wees,

19. want Hy wil dat in Hom alle volheid sal bly

20. en deur Hom alle verhoudings met Homself sal herstel en Hy het vrede gemaak deur die bloed van Sy kruisiging; óf dit nou die dinge op die aarde is óf ook die dinge in die hemele.

21. Ook vir julle wat vroeër vreemdelinge en vyande in julle gedagtes deur julle bose werke was, het Hy nou vrede gegee

22. in Sy vleeslike liggaam en deur Sy dood, om julle afgesonderd, sonder skuld en sonder aanklag voor Hom te laat staan

23. as julle voortgaan in julle vertroue terwyl julle fondasie waar is en julle nie wegbeweeg van die versekerde verwagting van die goeie boodskap af, wat julle gehoor het en wat verkondig is aan elkeen in die skepping onder die hemel, waarvan ek, Sha’ul, die bedienaar geword het nie.

24. Ek verheug my in lyding wat om julle onthalwe is en vul in my vlees aan, dit wat ek kortkom aan die lyding van Die Gesalfde Een, vir Sy liggaam, wat die gemeente is;

25. waarvan ek ’n bedienaar geword het volgens die verantwoordelikheid van God wat aan my gegee is vir julle, om die boodskap van God volledig te maak:

26. daardie geheime wat weggesteek was vir die wêreld en vir generasies, maar nou openbaar is aan Sy afgesonderdes,

27. hulle aan wie God besluit het om bekend te maak wat die rykdom van die Gemanifesteerde Teenwoordigheid onder die ander nasies is, dit is, Die Gesalfde Een wat in julle is, die versekerde verwagting van ons eer, lof en grootheid;

28. Hy wie ons verkondig en leer en elke mens onderrig in alle wysheid sodat elke mens volmaak in Yeshua, Die Gesalfde Een, kan staan,

29. want hierin werk ek ook hard en stry ek met die hulp van die krag wat vir my gegee word.