Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 8:6-23 Die Boodskap (DB)

6. Luister na die goeie dinge wat ek vir julle wil sê. Dit is woorde wat werklik iets aan jou lewe kan doen.

7. Elke woord is die waarheid, want ek haat leuens.

8. My woorde gee jou ’n goeie kennis van die lewe.

9. Daar is werklik niks kroms of skeefs daaraan nie. Geen geheime agendas, magspeletjies of wat ook al nie. Net egte lewenswaarhede. Gaan vra maar vir hulle wat reeds wys leef en gelukkig is. Hulle sal weet my woorde is waar.

10. “My lewensreëls is baie meer werd as geld. Dit wat ek jou van die lewe wil leer, is baie kosbaarder as aardse skatte.

11. My goeie raad vir ’n gelukkige lewe is baie meer werd as jou peperduur juwele. Dis kosbaarder as enigiets wat jy ooit kan begeer.

12. “Wysheid moet gesien kan word daar waar mense moeilike situasies reg hanteer, daar waar die regte woorde op die regte oomblik gesê word.

13. “Onthou, wysheid begin by liefde vir die Here. Wie Hom liefhet, haat dinge soos om te veel van jouself te dink. Wysheid verag ’n verkeerde manier van leef en praat.

14. “Die wysheid verskaf die regte raad, kennis en insig vir ’n gelukkige lewe. Niemand kan sonder wysheid klaarkom nie.

15. Konings gebruik dit om te regeer,

16. staatspresidente maak goeie wette daarmee en regters sorg dat die regte besluite geneem word.

17. “Wie wysheid liefhet, is gelukkig. Wie daarna smag om reg te leef, sal dit regkry.

18. Wie wys leef, kry rykdom en eer, voorspoed en sukses. Die voordele van die regte manier van leef is onpeilbaar groot.

19. Selfs die suiwerste goud en die duurste silwer kan dit nie koop nie.

20. “Wysheid moet oral in mense te sien wees. Tree daarom in elke lewensituasie reg op. Behandel alle mense billik en reg.

21. Dan sal dit met jou baie goed gaan. Jy sal ’n ryk mens wees.”

22. Wysheid is baie oud. Neem dit dus ernstig op.Voorskrifte vir die regte manier van lewe is baie oud. Dit kom uit die gryse verlede. Riglyne om reg te leef, die regte dinge op die regte tyd te sê, kom al van die skepping af.

23. God het die wysheid heel aan die begin van die tyd gemaak, voordat Hy nog enigiets anders gemaak het: in die begin, nog voordat die aarde daar was, is die wysheid al netjies aanmekaargesit

Lees volledige hoofstuk Spreuke 8