Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 1:3-18 Die Boodskap (DB)

3. dit wil jou die kuns van die lewe aanleer, jou met ’n gedissiplineerde lewenstyl help. Dit wil jou leer wat reg en billik is.

4. Dit wil jou insig gee. Dan sal jy ’n goeie aanvoeling hê vir wat reg en gepas is in elke omstandigheid waarin jy beland. Dit wil onervare gelowiges leer hoe om reg te leef. Vir jongmense ook.

5. Dit wil die gelowiges wat klaar weet hoe om reg te leef, nog meer kennis gee en vir dié wat reeds insig het, nog meer lewensvaardighede.

6. So sal hulle al die spreuke nog beter verstaan. Hulle sal snap wat wyse mense sê.

7. Lewensgeluk begin by liefde vir die Here. Sonder liefde is daar geen lewensvreugde nie. Iemand wat die Here nie liefhet nie en ook nie weet hoe om reg te leef nie, is dom. Hy verag ook al die spreuke.

8. ’n Jongmens moet die waarhede wat sy pa hom leer, ernstig opneem. Sy ma se lewenswaardes moet hy nie in die wind slaan nie.

9. Ouers se liefdevolle dissipline maak ons mooi mense. Dit is soos klere wat ons lewe versier.

10. As glibberige mense jou deel wil laat hê aan hulle gekonkel, moet jy weier. Pas op as hulle vir jou sê:

11-14. “Kom ons kul onskuldige mense. Ons laat goeie mense niksvermoedend in ons strikke inloop. Dan gaan hulle onder. Dan vat ons hulle goed en verryk onsself. Kom, wees deel daarvan.”

15. Jongmens, moet tog nooit met sulke mense meng of met hulle saamwerk nie. Hulle doen altyd wat sleg is.

16. Hulle is altyd haastig om ander seer te maak. Hulle gee nie om om iemand dood te maak nie.

17. ’n Voëlnet word tog nie voor voëls gegooi nie. Hulle sien dit en vlieg weg.

18. Slegte mense is egter anders. Hulle sien nie die net nie en word daarin verstrengel.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 1