Ou Testament

Nuwe Testament

Sefanja 1:1-10 Die Boodskap (DB)

1. In die tyd toe Josia koning van Juda was, het die Here vir Sefanja ’n boodskap gegee. Josia se pa se naam was Amon en Sefanja s’n Kusi. Sefanja se voorouers lyk so: Kusi se pa was Gedalja, Gedalja se pa Amarja en op sy beurt was Hiskia weer Amarja se pa.

2. Die Here sê dat Hy alles van die aarde af gaan vee.

3. Hy gaan van die mense en diere ontslae raak, van die voëls en die visse en ook die slegte mense wat ander mense verkeerde dinge laat doen. Hy sê ook dat Hy veral die mense op die aarde gaan uitroei.

4. Eerste aan die beurt is die mense van Juda en Jerusalem. Die Here gaan die mense van Juda en Jerusalem straf. Hy gaan alles uitroei wat nog met die aanbidding van Baäl in Jerusalem te doen het. Hy gaan ook sorg dat niemand meer die priesters wat in Baäl se diens gestaan het, kan onthou nie.

5. Hy gaan ook ontslae raak van die mense in Jerusalem wat op die dak van hulle platdakhuise klim en neerkniel om die son, die maan en die sterre te aanbid. Dan is daar ook nog ander mense in Jerusalem wat voorgee om die Here te aanbid. Hulle beloof om lojaal aan die Here te wees, maar as hulle ’n eed moet aflê, gebruik hulle die afgod Milkom se naam. Al hierdie mense sal Hy uitwis!

6. Dit geld ook die mense wat Hom eens op ’n tyd getrou gedien het, maar dit nie meer doen nie. Hulle wil ook nie meer hê Hy moet hulle lei nie. Hulle vra ook nie meer die Here se raad as hulle dit nodig het nie.

7. Die mense van Juda moet besef dat hulle te make het met die Here wat gesag oor alles en almal het. Die beste wat hulle kan doen, is om hulle mond in sy teenwoordigheid te hou. Die tyd is baie naby dat Hy straf gaan uitdeel. Wanneer Hy kom om straf uit te deel, gaan dit wees soos iemand wat ’n offermaaltyd vir gaste hou en dan word die gaste self die offer. Die Here gaan die mense van Juda straf.

8. Wanneer die tyd aanbreek om met hulle af te reken, gaan die Here die leiers en die prinse van Juda straf. Hy gaan ook die mense straf wat die gewoontes van die heidense volke navolg.

9. Dit is ook nie vir die Here aanvaarbaar dat party van die mense net soos die heidene aanbid nie. Hy gaan hulle straf. Hy gaan ook die mense straf wat die koning ryk maak met die skatte wat hulle gekry het deur mense te beroof en te vermoor.

10. Die Here sê wanneer die tyd aanbreek om mense te begin straf, sal daar by ’n ingang van Jerusalem met die naam Vispoort mense wees wat sal skreeu omdat hulle bang en benoud is. Ook in die nuwer deel van die stad sal van die mense hartseer huil. Uit die heuwels in die omgewing sal ’n plofgeluid gehoor kan word soos die afgodsbeelde stukkend val.

Lees volledige hoofstuk Sefanja 1