Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 8:7-14 Die Boodskap (DB)

7. Luister ’n bietjie na wat die Here sê: Ek gaan my mense red uit die lande in die ooste en die weste.

8. Ek sal hulle na Jerusalem toe terugbring sodat hulle weer daar kan bly. Soos vroeër sal hulle my volk wees en Ek hulle God. Ek sal lojaal aan hulle wees en regverdig.”

9. Die Here sê ook: “Skep moed, spring aan die werk en bou die tempel klaar! Die beloftes wat julle nou hoor, is lank gelede alreeds deur die profete gemaak toe die fondamente van die tempel van die Here gelê is.

10. Toe hulle met die werk aan die tempel begin het, was daar nie geld om die mense te betaal nie. Daar was ook nie geld om diere vir die werk te huur nie. Dit was toe so onveilig in die land dat niemand dit kon waag om van die een plek na ’n ander een te gaan nie. Ek het gemaak dat mense mekaar se vyande was.

11. Maar dinge het verander. Ek sal nie meer met die klompie mense wat oor is, maak soos Ek vroeër met hulle gemaak het nie.

12. Dit sal van nou af goed met hulle gaan. Daar sal vrede wees. Die wingerde sal druiwe dra. Verder sal die mense goeie oeste van die lande af inbring. Die hemel sal sorg vir die dou op die aarde. Ek sal dit alles doen vir hierdie klompie mense van Juda wat oorgebly het.

13. As mense van ander volke mekaar sleg wou sê, het hulle altyd Juda en Israel as voorbeelde gebruik. Hulle het iets gesê soos: ‘Mag die slegte goed wat Juda en Israel oorgekom het, ook met julle gebeur.’ Maar dit gaan nou end kry! Ek sal julle red. Van nou af sal hulle aan julle dink as mense met wie dit baie goed gaan. Moet daarom nie bang wees nie, maar wys dat julle moed het en pak die bouwerk van die tempel aan!”

14. Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Julle voorouers het My baie kwaad gemaak. Ek het toe belowe dat Ek hulle gaan straf. Ek het woord gehou en Ek het hulle toe gestraf.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 8