Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:4-14 Die Boodskap (DB)

4. Dan het hulle kamp opgeslaan en al die oeste verwoes tot so ver as by Gasa. Hulle het die Israeliete agterlaat met niks om te eet nie, want hulle het ook die skape, beeste en donkies saam met hulle gevat.

5. Die soldate van Midian het met al hulle vee en tente gekom. Dit het soos ’n swerm sprinkane gelyk, so baie was hulle. Dit was onmoontlik om hulle en hulle kamele te probeer tel. Hulle het in die land gebly totdat hulle dit kaal gestroop het.

6. Hulle het die Israeliete heeltemal laat verarm. Toe het die Israeliete by die Here hulp gaan soek.

7. Toe hulle by die Here hulp teen die Midianiete soek,

8. het Hy vir hulle ’n profeet gestuur wat vir hulle gesê het: “So sê die Here die God van Israel: Ek het julle uit Egipte gered waar julle slawe was.

9. Ek het julle uit die mag van die Egiptenaars verlos en julle vrygemaak van al die volke wat julle in hierdie land verdruk het. Ek het hulle voor julle uit weggejaag en hulle land vir julle gegee.

10. Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag glad nie die gode van die Amoriete in wie se land julle bly, aanbid nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.”

11. Daarna het die Engel van die Here onder die eikeboom in Ofra gaan sit wat aan Joas die Abiësriet behoort het. Sy seun Gideon was besig om koring in die parskuip uit te slaan waar die Midianiete hom nie kon sien nie.

12. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”

13. Toe antwoord Gideon: “Verskoon my dat ek vra, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom gebeur al hierdie slegte goed met ons? Wat het van al die wonderlike dinge geword waarvan ons voorvaders ons vertel het? Het hulle nie gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gered’ nie? Maar nou het die Here ons aan ons eie lot oorgelaat en ons in die Midianiete se mag oorgegee.”

14. Toe draai die Here na Gideon toe en sê vir hom: “Jy het die krag. Gaan bevry die Israeliete uit die Midianiete se mag! Gaan nou, Ek stuur jou!”

Lees volledige hoofstuk Rigters 6