Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 4:14-24 Die Boodskap (DB)

14. Toe sê Debora vir Barak: “Maak jou reg! Vandag gee die Here Sisera in jou mag oor, want die Here self trek voor jou uit!” Barak en sy 10 000 soldate is toe teen berg Tabor af om te gaan oorlog maak.

15. Toe Barak en sy soldate hulle aanval, het die Here vir Sisera en sy hele leër, die voetsoldate en dié in die strydwaens, paniekbevange gemaak. Sisera het van sy strydwa afgespring en te voet weggehardloop.

16. Barak het die soldate en die strydwaens in die rigting van Garoset-Hagojim agternagesit en hulle almal sonder uitsondering doodgemaak.

17. Intussen het Sisera na Jael, Geber die Keniet se vrou, toe gevlug, want koning Jabin van Hasor en Geber se familie was vriende.

18. Jael het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer, kom hier in my tent in, moenie bang wees nie!” Hy is toe daar in en sy het hom met ’n kombers toegegooi.

19. Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my ’n bietjie water om te drink.” Sy het dadelik vir hom ’n bietjie melk gegee om te drink en hom weer met die kombers toegemaak.

20. Hy sê toe vir haar: “Staan by die tentdeur, en as iemand hiernatoe kom en vra of hier iemand by jou is, moet jy nee sê!”

21. Sisera was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Jael het toe ’n hamer en ’n tentpen gevat en stilletjies na die slapende Sisera toe gegaan. Sy het die tentpen met die hamer deur sy kop tot in die grond ingeslaan. So is Sisera dood.

22. Toe Barak daar aankom op soek na Sisera, het Jael na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Kom hier, dan wys ek jou die man wat jy soek.” Hy het haar die tent in gevolg en daar het hy Sisera gekry met die tentpen deur sy slaap.

23. Op daardie dag het die Israeliete gesien hoe God vir Jabin die koning van die Kanaäniete verneder.

24. Van toe af het hulle al hoe meer die oorhand oor hom gekry totdat hulle hom uiteindelik heeltemal vernietig het.

Lees volledige hoofstuk Rigters 4