hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 4 Die Boodskap (DB)

Debora

1. Na Ehud se dood het die Israeliete weer dinge gedoen waarvan die Here niks gehou het nie.

2. Die Here het hulle in koning Jabin, ’n Kanaänitiese koning, se mag oorgegee. Hy het in Hasor regeer. Sisera, sy weermaghoof, het in Garoset-Hagojim gewoon.

3. Jabin het 900 ysterstrydwaens gehad. Hy het die Israeliete twintig jaar lank genadeloos onderdruk. Daarom het hulle by die Here hulp gaan soek.

4. Debora, die vrou van Lappidot, was op daardie stadium die leier van die Israeliete. Sy was ook ’n profeet.

5. Sy het altyd onder die palmboom van Debora tussen Rama en Bet-El in die berge van Efraim gesit. Daar het die Israeliete na haar toe gekom om raad te vra en om hulle te help om hulle probleme op te los.

6. Op ’n dag het sy vir Barak uit Kedes in Naftali laat roep. Hy was Abinoam se seun. Sy sê toe vir hom: “Hierdie opdrag kom van die Here die God van Israel: Maak vir jou 10 000 soldate bymekaar uit die stamme van Naftali en Sebulon en trek met hulle na die berg Tabor toe.

7. Ek sal Sisera, die hoof van Jabin se weermag, met al sy strydwaens en sy soldate teen jou laat uittrek om teen jou te kom oorlog maak by die spruit Kison, maar Ek sal hom in jou mag oorgee.”

8. Toe het Barak haar geantwoord: “Ek sal op een voorwaarde gaan, en dit is dat jy saam met my gaan. So nie, bly ek net hier!”

9. “Dit is goed so,” het sy gesê, “ek sal saam met jou gaan. Maar aangesien dit jou keuse is, sal jy nie die eer vir die oorwinning kry nie. Die Here sal Sisera in ’n vrou se hande oorgee.” Debora is toe saam met Barak daar weg na Kedes toe.

10. Barak het met 10 000 soldate uit die stamme van Naftali en Sebulon na Kedes toe opgeruk en Debora het saam met hulle gegaan.

11. Geber die Keniet, ’n afstammeling van Moses se swaer Gobab, het weggetrek van die ander Keniete af. Hy het sy kamp by die eikeboom in Saänannim in die omgewing van Kedes opgeslaan.

12. Toe Sisera hoor dat Barak besig is om na die berg Tabor toe op te ruk,

13. het hy sy 900 ysterstrydwaens en al sy soldate van Garoset-Hagojim af na die spruit Kison toe laat kom.

14. Toe sê Debora vir Barak: “Maak jou reg! Vandag gee die Here Sisera in jou mag oor, want die Here self trek voor jou uit!” Barak en sy 10 000 soldate is toe teen berg Tabor af om te gaan oorlog maak.

15. Toe Barak en sy soldate hulle aanval, het die Here vir Sisera en sy hele leër, die voetsoldate en dié in die strydwaens, paniekbevange gemaak. Sisera het van sy strydwa afgespring en te voet weggehardloop.

16. Barak het die soldate en die strydwaens in die rigting van Garoset-Hagojim agternagesit en hulle almal sonder uitsondering doodgemaak.

17. Intussen het Sisera na Jael, Geber die Keniet se vrou, toe gevlug, want koning Jabin van Hasor en Geber se familie was vriende.

18. Jael het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer, kom hier in my tent in, moenie bang wees nie!” Hy is toe daar in en sy het hom met ’n kombers toegegooi.

19. Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my ’n bietjie water om te drink.” Sy het dadelik vir hom ’n bietjie melk gegee om te drink en hom weer met die kombers toegemaak.

20. Hy sê toe vir haar: “Staan by die tentdeur, en as iemand hiernatoe kom en vra of hier iemand by jou is, moet jy nee sê!”

21. Sisera was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Jael het toe ’n hamer en ’n tentpen gevat en stilletjies na die slapende Sisera toe gegaan. Sy het die tentpen met die hamer deur sy kop tot in die grond ingeslaan. So is Sisera dood.

22. Toe Barak daar aankom op soek na Sisera, het Jael na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Kom hier, dan wys ek jou die man wat jy soek.” Hy het haar die tent in gevolg en daar het hy Sisera gekry met die tentpen deur sy slaap.

23. Op daardie dag het die Israeliete gesien hoe God vir Jabin die koning van die Kanaäniete verneder.

24. Van toe af het hulle al hoe meer die oorhand oor hom gekry totdat hulle hom uiteindelik heeltemal vernietig het.