Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 4:10-20 Die Boodskap (DB)

10. Barak het met 10 000 soldate uit die stamme van Naftali en Sebulon na Kedes toe opgeruk en Debora het saam met hulle gegaan.

11. Geber die Keniet, ’n afstammeling van Moses se swaer Gobab, het weggetrek van die ander Keniete af. Hy het sy kamp by die eikeboom in Saänannim in die omgewing van Kedes opgeslaan.

12. Toe Sisera hoor dat Barak besig is om na die berg Tabor toe op te ruk,

13. het hy sy 900 ysterstrydwaens en al sy soldate van Garoset-Hagojim af na die spruit Kison toe laat kom.

14. Toe sê Debora vir Barak: “Maak jou reg! Vandag gee die Here Sisera in jou mag oor, want die Here self trek voor jou uit!” Barak en sy 10 000 soldate is toe teen berg Tabor af om te gaan oorlog maak.

15. Toe Barak en sy soldate hulle aanval, het die Here vir Sisera en sy hele leër, die voetsoldate en dié in die strydwaens, paniekbevange gemaak. Sisera het van sy strydwa afgespring en te voet weggehardloop.

16. Barak het die soldate en die strydwaens in die rigting van Garoset-Hagojim agternagesit en hulle almal sonder uitsondering doodgemaak.

17. Intussen het Sisera na Jael, Geber die Keniet se vrou, toe gevlug, want koning Jabin van Hasor en Geber se familie was vriende.

18. Jael het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer, kom hier in my tent in, moenie bang wees nie!” Hy is toe daar in en sy het hom met ’n kombers toegegooi.

19. Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my ’n bietjie water om te drink.” Sy het dadelik vir hom ’n bietjie melk gegee om te drink en hom weer met die kombers toegemaak.

20. Hy sê toe vir haar: “Staan by die tentdeur, en as iemand hiernatoe kom en vra of hier iemand by jou is, moet jy nee sê!”

Lees volledige hoofstuk Rigters 4