Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:25-38 Die Boodskap (DB)

25. en net soos die vorige dag het Benjamin se soldate by die stad uitgestorm. Hierdie keer het hulle 18 000 opgeleide soldate van Israel doodgemaak.

26. Die hele Israelitiese leër is toe terug Bet-El toe, waar hulle voor die Here gekla en gehuil het tot laat die aand, sonder om iets te eet. Hulle het ook brandoffers en vredesoffers vir die Here gebring.

27-28. Destyds was die verbondsark van die Here nog by hulle. Hulle het toe deur die priester Pineas (hy was Eleasar se seun en die kleinseun van Aäron) vir die Here gevra: “Moet ons weer teen ons broers gaan oorlog maak, of moet ons ophou?”Die Here se antwoord was: “Gaan, môre gee Ek hulle in julle mag oor.”

29. Die Israeliete het toe hinderlae rondom Gibea opgestel.

30. Op die derde dag het ’n groep Israelitiese soldate, soos die vorige kere, regoor Gibea ontplooi.

31. Toe die soldate van Benjamin uitkom om teen hulle te veg, het hulle hulle van die stad af weggelok. En net soos voorheen het hulle die Israelitiese soldate begin doodmaak op die paaie wat na Gibea en Bet-El toe gelei het. Hulle het omtrent 30 soldate doodgemaak.

32. Die soldate van Benjamin het opgewonde geskree: “Ons verslaan hulle al weer soos die vorige kere!” Maar die Israeliete het voor die tyd onder mekaar afgespreek dat hierdie groep voor hulle sou uitvlug om hulle van die stad af weg te lei na die grootpaaie toe.

33. Wanneer die grootste groep van die Israelitiese leër teruggeval het tot by Baäl-Tamar, sal die ander soldate wat in die hinderlae lê, uit hulle plekke wes van Gibea opspring

34. en die Benjaminiete van agter af aanval. Tien duisend uitgesoekte soldate het in hierdie stadium aan die geveg deelgeneem. Die geveg was hewig. Benjamin se soldate het nog nie besef dat hulle ’n ramp in die gesig staar nie.

35. Die Here het Israel gehelp om Benjamin te verslaan. Hulle het op daardie dag 25 100 van Benjamin se dapperste soldate doodgemaak.

36. Benjamin se leër het geweet dat hulle verslaan is. Hulle het besef dat die hoofgroep van die Israelitiese leër net teruggeval het om die soldate wat in die hinderlaag rondom Gibea gelê het, meer kans te gee om in posisie te kom.

37. Die soldate wat in die hinderlae gelê het, het vinnig opgespring, die stad oorrompel en al die inwoners van Gibea doodgemaak.

38. Die twee groepe Israelitiese soldate het ’n teken met mekaar afgespreek.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20