Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:1-17 Die Boodskap (DB)

1. Toe die volgende gebeurtenis plaasgevind het, was daar nog nie ’n koning in Israel nie. Daar was ’n Leviet wat in die afgeleë gebiede van die berge van Efraim gebly het. Hy het vir hom ’n byvrou uit Betlehem in Juda gaan haal.

2. Hulle twee het probleme gehad en sy het teruggegaan na haar pa se huis toe in Betlehem. Na ongeveer vier maande

3. het hy besluit om te gaan kyk of hy haar kon oorreed om terug te kom. Hy het sy dienaar en twee donkies saamgevat. By die huis aangekom, het die pa hom die huis ingenooi en hom vriendelik verwelkom.

4. Sy skoonpa het by hom aangedring om ’n ruk by hulle te bly. Hy het ingestem en drie dae daar gebly. Hulle het saam gekuier en geëet en die nag daar oorgeslaap.

5. Op die vierde dag was die man reeds vroeg op en reg om terug te gaan huis toe. Maar sy skoonpa het vir hom gesê: “Eet eers iets, dit sal jou goed doen. Jy kan mos maar ’n bietjie later vertrek.”

6. Hy en sy skoonpa het toe gaan sit en saam geëet en gedrink. Die skoonpa sê toe vir hom: “Bly nog ’n nag hier en kuier lekker.”

7. Die man het al op die punt gestaan om te vertrek, maar sy skoonpa het so by hom aangehou dat hy uiteindelik ingestem en die nag daar deurgebring het.

8. Vroeg die môre op die vyfde dag het hy gereedgemaak om te vertrek. Die skoonpa sê toe weer: “Eet eers iets voor jy gaan; jy kan mos vanmiddag ook nog betyds wegkom.” Hulle het toe weer saam geëet.

9. Toe hy en sy byvrou en sy dienaar later die middag gereedmaak om terug te gaan, sê sy skoonpa vir hom: “Kyk, dis al amper donker, jy kan maar net sowel nog ’n nag hier oorbly. Slaap hier oor en die geniet die aand saam met ons. Julle kan môre vroeg opstaan en teruggaan huis toe.”

10. Hierdie keer was die Leviet vasberade om terug te gaan. Daarom het hulle klaargemaak en vertrek: hy, sy byvrou, sy dienaar en die donkies. Dit was al baie laat toe hulle in die omgewing van Jebus, dit is nou Jerusalem, aankom.

11. Die dienaar sê toe: “Dit word nou te donker om verder te reis. Kom ons bly die nag in Jebus oor.”

12-13. Maar die Leviet het geweier en gesê: “Ons kan nie in ’n vreemde stad bly waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons gaan nog ’n ent verder. Miskien kan ons plek kry in Gibea of Rama.”

14. Hulle het toe verder gereis en teen sononder by Gibea, ’n dorp in die gebied van Benjamin, aangekom.

15. Hulle het afgedraai daarheen om daar te oornag. Hulle het op die stadsplein gaan sit om te rus met die hoop om slaapplek te kry vir die nag, maar niemand het hulle slaapplek aangebied nie.

16. Later die aand, terwyl hulle nog daar gesit het, het ’n ou man van sy werk op die lande af teruggekom. Hy was afkomstig van die bergagtige gebied van Efraim, maar het nou in Gibea onder die mense van die stam van Benjamin kom bly.

17. Toe die ou man die reisiger op die stadsplein sien sit, vra hy vir hom: “Waarvandaan kom jy? En waarheen is jy op pad?”

Lees volledige hoofstuk Rigters 19