Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Jefta, ’n inwoner van Gilead, was ’n dapper soldaat. Hy was die seun van Gilead by ’n prostituut.

2. Gilead het nog ander seuns ook gehad by sy eie vrou. Toe hulle grootgeword het, het hulle hulle halfbroer, Jefta, weggejaag. “Jy mag niks van ons pa erf nie,” het hulle vir hom gesê, “want jy is ’n ander vrou se kind!”

3. Jefta het toe van sy broers af padgegee en in Tob gaan woon. Dit was nie te lank voordat ’n groot klomp nikswerd leeglêers by hom aangesluit en oral saam met hom gegaan het nie.

4. ’n Ruk later het die Ammoniete besluit om teen die Israeliete te kom oorlog maak.

5. Toe het die leiers van Gilead mense na Tob toe gestuur om vir Jefta te vra om hulle te kom help.

6. Hulle het hom laat weet: “Ons wil hê jy moet ons leier wees sodat ons teen die Ammoniete kan veg.”

7. Jefta se antwoord was: “Julle het my so gehaat dat julle my gedwing het om my eie pa se huis te verlaat. Hoekom hardloop julle nou skielik na my toe as julle in die moeilikheid is?”

8. “Omdat ons jou nodig het om saam met ons teen die Ammoniete te veg,” het hulle vir Jefta gesê. “Ons wil hê jy moet die leier van ons almal in Gilead wees.”

9. Toe sê Jefta vir hulle: “So, dit beteken dat as ek saam met julle kom en die Here vir my die oorwinning oor die Ammoniete gee, dan word ek julle leier?”

10. “Die Here is ons getuie,” het hulle gesê, “ons aanvaar dit, ons sal doen wat jy vra.”

11. Jefta is toe saam met die leiers van Gilead daar weg. Hy het hulle leier en die aanvoerder van hulle leër geword. In Mispa het Jefta in die teenwoordigheid van die Here alles vir die mense herhaal wat die leiers vir hom gesê het.

12. Jefta het toe boodskappers na die koning van Ammon toe gestuur om vir hom te vra: “Wat is jou probleem met ons? Waarom is jy besig om ons land binne te val?”

13. Die koning van Ammon se antwoord was: “Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, het hulle my land by my gevat, die hele gebied van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier en van daar af die hele ent tot by die Jordaanrivier. Al wat ek vra, is dat julle my land in vrede teruggee.”

14. Jefta het sy boodskappers met die volgende antwoord teruggestuur:

Lees volledige hoofstuk Rigters 11