Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 35:1-20 Die Boodskap (DB)

1. Terwyl die Israeliete nog in die vlakte van Moab, regoor Jerigo aan die oostekant van die Jordaanrivier, gekamp het, het die Here vir Moses gesê:

2. “Jy moet vir die Israeliete sê dat wanneer hulle hulle grond gekry het, hulle vir die Leviete stede moet gee om in te bly met goeie weiveld.

3. Hierdie stede met die weivelde moet hulle eiendom word, sodat hulle daar kan bly en hulle beeste en skape daar kan laat wei.

4-5. Van die stadsmuur af moet julle ’n strook van 450 meter wyd afmeet vir hierdie weiveld. Doen dit reg rondom die stad sodat die stuk weiveld om die stad 900 meter van oos na wes loop en weer 900 meter van noord na suid, met die stad in die middel.

6. “Verder moet ses van die stede wat julle vir die Leviete gee, stede wees waarheen ’n persoon sou kon vlug wat iemand anders per ongeluk doodgemaak het. Bo en behalwe hierdie ses stede moet julle vir hulle nog 42 ander stede ook gee.

7. Hulle moet altesaam 48 stede kry met weiveld rondom elke stad.

8. Die aantal stede wat elke stam vir die Leviete moet gee, hang saam met die grootte van die stam en die hoeveelheid grond wat hulle gekry het. As dit een van die groter stamme is, moet hulle meer stede afstaan. En as dit een van die kleiner stamme is, moet hulle minder stede afstaan.”

9. Die Here het vir Moses gesê:

10. “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaanrivier getrek het,

11. moet julle vir julle ’n aantal stede uitsoek wat bekend sal staan as toevlugstede. Die doel van hierdie stede is dat as iemand sonder opset ’n ander persoon doodgemaak het, hulle daarheen kan vlug en daar beskerm kan word.

12. Dan kan die familie van die persoon wat doodgemaak is, nie die ander persoon uit weerwraak daar kom vang en doodmaak nie. Daar sal hy eers die kans kry om sy saak aan die leiers van die volk te stel.

13. Julle moet ses sulke toevlugstede aanwys.

14. Drie in die gebied oos van die Jordaanrivier en drie in Kanaän, wes van die Jordaanrivier.

15. Hierdie stede moet veilige stede wees vir enigeen wat per ongeluk iemand anders doodgemaak het, of die persoon nou ’n Israeliet is of een van die ander mense wat saam met julle bly. Dit geld vir almal.

16. “Maar as iemand ’n ander persoon met ’n stuk yster slaan en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry.

17. Of as iemand ’n ander persoon met ’n groot klip slaan en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry.

18. En as iemand ’n ander persoon met ’n gevaarlike stuk hout bydam en hy gaan dood, is dit moord. Dan moet die moordenaar die doodstraf kry.

19. In al hierdie gevalle het die naaste familielid van die vermoorde persoon die verantwoordelikheid om die moordenaar aan die pen te laat ry vir die moord.

20. Ook in die geval waar iemand ’n ander mens haat en hy die persoon hard omstamp of hom doelbewus met iets gooi,

Lees volledige hoofstuk Numeri 35