Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:15-32 Die Boodskap (DB)

15. As dit is hoe U my gaan behandel, doen my eerder ’n guns en laat my doodgaan. Ek kan nie so aangaan nie.”

16. Toe sê die Here vir Moses: “Soek 70 mense onder die leiers van Israel uit. Maak seker dat die mense hulle gesag sal aanvaar. Bring hulle dan saam met jou na die tent toe waar Ek aanbid word.

17. Ek sal daar met julle kom praat en van die bekwaamheid wat Ek jou gegee het, op hulle skouers sit sodat hulle saam met jou verantwoordelikheid kan neem vir die volk. Dan hoef jy dit nie meer alleen te doen nie.

18. Sê vir die volk: Was julle skoon, want môre sal julle vleis hê om te eet. Die Here het julle gekerm oor die vleis gehoor en dat julle sê Egipte was so verskriklik goed. Nou gaan die Here vir julle vleis gee om te eet, en julle sal moet eet!

19. Moenie dink dit sal net vir ’n dag of twee of dalk vyf of tien, ja, selfs net twintig dae wees nie.

20. Nee, julle sal ’n hele maand lank vleis eet totdat julle naar word daarvan en julle later nie meer ’n stukkie vleis in die oog sal kan kyk nie. Dit het julle nou daarvan met al julle gekla en verwyte dat julle nooit uit Egipte uit moes getrek het nie, toe julle die Here verwerp het.”

21. Moses sê toe vir die Here: “Die manne alleen is omtrent 600 000 mense en U belowe om vir almal genoeg vleis te gee vir ’n hele maand!

22. Selfs al slag ons al ons beeste en al ons skape, sal dit nooit genoeg wees nie. Ons kan al die visse in die see vang en dit sal nog steeds nie genoeg wees nie.”

23. Toe vra die Here vir Moses: “Dink jy Ek het nie die mag om dit te doen nie? Jy sal nou met jou eie oë sien of my woorde waar word of nie.”

24. Moses het toe vir die volk gaan vertel wat die Here gesê het. Hy het die 70 leiers uitgesoek en hulle in ’n sirkel om die tent laat staan.

25. Die Here het toe in die wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het dieselfde Gees wat Hy vir Moses gegee het om in sy Naam op te tree, ook vir die 70 leiers gegee. Toe dit gebeur, het hulle God se wil begin bekendmaak. Dit het egter net hierdie een keer gebeur.

26. Twee van die leiers, Eldad en Medad, was nog in die kamp toe die Gees in hulle begin werk het. Hulle het net daar in die kamp waar hulle was, God se wil begin bekendmaak.

27. ’n Jongman het toe na Moses toe gehardloop en vir hom gesê: “Eldad en Medad is besig om sommer in die kamp in die Naam van God te praat!”

28. “Laat hulle tog ophou, Meneer,” het Nun se seun Josua gesê. Hy was van jongs af al Moses se helper.

29. Toe vra Moses vir hom: “Is jy bang die mense luister nie meer na my nie? Ek wens die Here wil sy Gees vir die hele volk gee sodat hulle almal sy wil bekend kan maak!”

30. Hierna is Moses met die 70 leiers terug kamp toe.

31. Die Here het toe ’n wind laat opsteek wat voëls wat bekend was as kwartels van die see se kant af na die kamp toe gewaai het. Hulle het omtrent ’n meter van die grond af gevlieg en oral op die grond gaan sit vir kilometers aaneen, reg rondom die kamp.

32. Die volk was die hele dag en die hele nag en die volgende dag besig om voëls te vang en bymekaar te maak. Nie een gesin het minder as 1 000 kilogram bymekaargemaak nie. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei om droog te word.

Lees volledige hoofstuk Numeri 11