Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 4:12-23 Die Boodskap (DB)

12. Die Judeërs wat naby daardie slegte spul gebly het, het ’n hele paar keer na ons toe gekom met die waarskuwing dat hulle ons gaan aanval.

13. Daarom het ek die mense met swaarde, spiese, pyle en boë bewapen. Ek het families saamgesit en hulle agter die muur stelling laat inneem by die plekke wat nog nie heeltemal klaar was nie.

14. Ek het gesien dat die mense benoud was; daarom het ek hulle leiers en amptenare bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Moenie vir daardie slegte mense bang wees nie! Dink eerder hoe asemrowend groot en magtig die Here is. Veg dan met alles in julle vir julle families en julle huisgesinne.”

15. Toe ons vyande agterkom dat ons weet van hulle planne om ons aan te val, het hulle besef dat God dit in die wiele gery het. Daarna kon ons voortgaan met ons werk aan die muur.

16-17. Van daardie dag af het die helfte van die mense aan die muur gebou terwyl die ander helfte waggestaan het met spiese, skilde, pyle en boë en borsharnasse. Die leiers van die volk het almal wat aan die muur gewerk het, elke dag besoek en aangemoedig. Die helpers wat die boumateriaal moes aandra, het hulle werk met een hand gedoen, want in die ander hand het hulle ’n wapen gedra.

18. Al die bouers het ook ’n swaard om hulle heupe gedra. Die soldaat wat met sy trompet alarm moes maak as daar gevaar kom, het die hele tyd by my gebly.

19. Ek het vir almal daar gesê: “Ons het nog baie werk om te doen. Die muur strek oor ’n groot gebied en ons is soms ver van mekaar af.

20. As julle die trompet hoor blaas, sorg dat julle so gou moontlik by my en die soldate uitkom. Ons weet ons God sal ons help in die geveg.”

21. Ons het elke dag aan die muur gewerk, van die son opgekom tot die sterre uitgekom het. Terwyl die een helfte gewerk het, het die ander helfte waggestaan met hulle wapens.

22. Ek het ook in dié tyd vir mense wat buite Jerusalem gebly het, gevra om binne-in die stad te kom slaap. So kon ons mekaar aflos met wagstaan in die nag en werk in die dag.

23. Nie ek of my medeamptenare, ons helpers of die wagte wat by ons was, het ooit ’n kans gekry om ons klere uit te trek nie. Selfs as ons gaan bad het, het ons altyd wapens byderhand gehou.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 4