Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 13:1-9 Die Boodskap (DB)

1. In daardie tyd, terwyl hulle gedeeltes uit die boek van Moses vir die volk voorgelees het, het hulle op die gedeelte afgekom wat sê dat geen Ammoniet of Moabiet ooit in God se gemeente toegelaat moes word nie.

2. Die rede hiervoor was dat die Ammoniete en die Moabiete geweier het om vir die Israeliete kos of water te gee in die tyd van die uittog uit Egipte. Om die waarheid te sê, dit was hulle wat vir Bileam gehuur het om Israel te vervloek sodat God niks meer van hulle sou hou nie. Ons God het sy vloek in ’n seën verander.

3. Toe die mense hierdie woorde hoor, het hulle besluit om geen vreemdelinge onder die Israeliete toe te laat nie.

4. Die priester Eljasib, wat die opsigter van die tempelstoorkamers was, en Tobija was lank reeds goeie vriende.

5. Daarom het hy Tobija toegelaat om in ’n ruim kamer in te trek. Hierdie kamer was eintlik bedoel as stoorplek vir die koring, wierook en gereedskap wat hulle in die tempel gebruik het, asook vir die tiendes van die koring, wyn en olyfolie wat vir die Leviete, die tempelmusikante en die tempelwagte bedoel was. Die priesters se deel van die offers is ook daar gebêre.

6. Ek was nie in Jerusalem toe hierdie dinge gebeur het nie, aangesien ek in die 32ste regeringsjaar van Artasasta, die koning van Babel, na die koning toe terug is om aan hom te gaan rapporteer hoe alles afgeloop het. Na ’n ruk het ek sy toestemming gekry om terug te gaan.

7. In Jerusalem aangekom, was ek geskok om uit te vind dat Eljasib vir Tobija toegelaat het om in ’n kamer op die tempelterrein te bly.

8. Ek was so kwaad dat ek al Tobija se goed uit die kamer op straat gegooi het.

9. Daarna het ek opdrag gegee dat die kamer opnuut vir die Here skoongemaak moet word en dat die toerusting wat in die tempel gebruik word, asook die graan wat vir die offers gebring is en die wierook, in die kamer teruggesit moes word.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 13