Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 12:25-39 Die Boodskap (DB)

25. Dit was Mattanja, Bakbukja, Obadja en Mesullam.Talmon en Akkub was die hekwagte wat in bevel was van die voorraadkamers by die hekke.

26. Hierdie mense het in die tyd van Jojakim die seun van Jesua, die kleinseun van Josadak, en in die tyd van die goewerneur Nehemia en die skrifgeleerde priester Esra diens gedoen.

27. Met die inwyding van die nuwe muur van Jerusalem is die Leviete van oor die hele land gevra om te kom help met die feesviering. Hulle moes as deel van die feesviering dankliedere sing en musiek maak met hulle simbale, harpe en liere.

28. Die sangers het uit die omgewing rondom Jerusalem gekom uit die dorpies Netofa

29. en Bet-Gilgal. Ander het uit die boerderygemeenskappe van Geba en Bet-Asmawet gekom, want die sangers het vir hulleself dorpies rondom Jerusalem gebou.

30. Die priesters en die Leviete het eers hulleself voor die Here skoongemaak. Daarna het hulle die volk, die hekke en die muur skoongemaak.

31. Toe het ek die leiers van Juda op die muur laat klim en twee groot kore saamgestel wat om die stad moes loop terwyl hulle die Here loof en prys. Die een koor het in ’n suidelike rigting al op die muur langs geloop tot by die Mishek.

32. Hosaja en die helfte van die leiers van Juda is gevolg deur

33. Asarja, Esra, Mesullam,

34. Juda, Benjamin, Semaja en Jeremia.

35. Daar was ook priesters met trompette: Sagaria die seun van Jonatan, die seun van Semaja, die seun van Mattanja, die seun van Miga, die seun van Sakkur, die seun van Asaf,

36. en sy kollegas Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani. Hulle het die musiekinstrumente bespeel wat Dawid, die man van God, voorgeskryf het. Esra het die optog gelei.

37. By die Fonteinhek is hulle reguit met die trap op wat in die rigting van die Dawidstad gelei het. Hulle het verby Dawid se paleis geloop en van daar af is hulle ooswaarts na die Waterhek toe.

38. Die ander koor het noord op die muur geloop. Ek en die ander helfte van die mense het hulle gevolg. Ons het by die Bakoondtoring verbygeloop tot by die Breë Muur.

39. Van daar af het ons oor die Efraimshek geloop tot by die Ou Stadshek, verby die Vishek en die Toring van Gananel tot by die Toring van die Honderd. Daarvandaan is ons verder tot by die Skaaphek en het uiteindelik by die Waghek naby die tempel gaan staan.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 12