Ou Testament

Nuwe Testament

Miga 6:8-16 Die Boodskap (DB)

8. “Hoekom al die vrae? Die Here het mos al vir julle gesê wat die regte dinge is om te doen. Hy het ’n ooreenkoms met Israel aangegaan dat Hy en hulle aan mekaar getrou sal wees. Daarom verwag Hy van mense wat hierdie ooreenkoms nakom om te doen wat reg is. Verder ook om aan Hom lojaal te wees en Hom lief te hê. Laastens moet hulle nie hoogmoedig teenoor die Here wees nie.

9. “Die Here se raad aan die mense van Jerusalem is: ’n mens wat verstandig is, respekteer die Here. Almal wat in die stad bymekaar is, kan gerus maar hoor wat die Here te sê het:

10. ‘Dink julle een oomblik dat Ek my oë kan sluit vir die verkeerde dinge waarmee julle besig is? Julle word op skelm maniere ryk. Ek kan dit nie verdra dat die maatbakke en bekers wat julle gebruik om iets soos koring of wyn af te meet, vals is nie.

11. Dink julle Ek sal dink dit is reg as iemand ander mense bedrieg met ’n skaal wat verkeerd weeg?

12. Die ryk mense in die stad kry wat hulle wil hê deur hardhandig met mense te werk. Jerusalem is vol mense wat lieg en bedrieg.

13. Al hierdie verkeerde dinge wat julle doen, is die rede waarom Ek julle begin straf het. Daar gaan nie veel van julle oorbly nie omdat julle verkeerd leef.

14. Niks wat julle doen, gaan goed vir julle werk nie. Julle kan maar eet, maar julle honger sal nie oorgaan nie. Wat julle gaan ervaar, is net soos wanneer ’n vrou geboortepyne kry, maar die kind word nie gebore nie. As ’n kind miskien tog gebore word, sal hy in ’n oorlog doodgaan.

15. Julle kan maar saad probeer saai, julle sal niks oes nie. Probeer maar olywe pars, julle sal nie eens genoeg olie kry om aan julle te smeer nie. Julle sal druiwe pars, maar dit sal nie sap gee om wyn van te maak nie. Al julle harde werk is verniet.

16. Ek het ’n groot probleem met julle omdat julle dieselfde verkeerde goed doen as wat koning Omri en sy seun Agab gedoen het. Dit is die rede hoekom Ek julle stad gaan verwoes. Ja, Ek gaan julle wat in die stad agterbly, verneder. Mense van ander volke sal na julle kyk en vir julle lag, want hulle dink minder as niks van julle.’”

Lees volledige hoofstuk Miga 6