Ou Testament

Nuwe Testament

Miga 1:1-5 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het aan Miga boodskappe gegee wat oor Samaria en Jerusalem gegaan het. Miga was van Moreset afkomstig. Hy het hierdie boodskappe wat die Here vir hom gegee het, gekry in die tyd toe Jotam, Agas en Hiskia onderskeidelik koning in Juda was.

2. Die eerste boodskap klink so: “Luister, asseblief! Alle volke en mense wat op die aarde bly, kyk mooi wat gaan gebeur! Die Here is Koning en Hy maak ’n regsaak teen julle. Meer as dit nog, Hy sal teen julle getuig. Die Here is in sy tempel, maar Hy wil hê julle moet hoor wat Hy te sê het.

3. “Kyk, Hy gaan weg van sy hemelse paleis af en kom aarde toe. Hy loop op die hoë bergtoppe.

4. Almal sal weet Hy het gekom, want die aarde wys dit. Die berge smelt weg en die valleie skeur oop. Dit lyk net soos wanneer ’n mens kerswas in ’n vuur sou smelt. Die was word loperig van die hitte en loop net soos water teen die kante van die berge af. Dit is soos vuurwarm lawa wat afloop.

5. Hoekom gebeur dit? Omdat die hele Israel opstandig is teen die Here en verkeerde dinge doen. Wie moet die blaam dra dat die mense van die noordelike koninkryk opstandig is? Die hoofstad, Samaria, natuurlik! En waar is offerplekke vir afgode in die suidelike koninkryk gebou? Binne-in Jerusalem.

Lees volledige hoofstuk Miga 1