Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:1-20 Die Boodskap (DB)

1. Toe het die Here vir Moses gesê:

2. “Vat Aäron en sy seuns na die ingang van die tent waar die Here gedien word. Bring ook vir hulle spesiale klere saam vir hulle werk. Bring ook die olyfolie wat jy gaan gebruik om hulle in hulle werk te bevestig, die bul wat vir die sonde geoffer moet word, die twee ramme en die mandjie met brode sonder suurdeeg wat jy nodig gaan hê.

3. Laat sommer ook al die mense uit die laer saam kom na die tent van ontmoeting toe.”

4. Moses het toe gemaak soos die Here vir hom gesê het. Die hele gemeenskap het by die ingang van die tent waar die Here gedien word, saamgekom.

5. Moses het vir hulle gesê: “Dit is soos die Here gesê het ons moet maak.”

6. Moses het Aäron en sy seuns laat nader staan en hulle met water gewas.

7. Hy het Aäron sy spesiale hemp vir sy dienswerk laat aantrek, die serp vir hom omgehang wat die dienaars by die Here se tent moet dra, daar bo-oor nog ’n mantel omgehang, die deel wat oor sy skouers kom oor sy skouers gesit en die mantel met ’n belt vasgebind.

8. Daar was ook ’n sak wat voor sy bors vasgekom het waarin die urim en tummim (waarmee die lot gewerp is om die Here se besluite te bepaal) was wat hy aan die mantel vasgesit het.

9. Hy het ook ’n hoed op Aäron se kop gesit en aan die voorkant daarvan ’n goue wapen vasgesteek, soos die Here hom beveel het.

10. Moses het toe die olyfolie gevat en daarvan aan die tent van ontmoeting gesmeer en aan alles wat daar binne-in was om dit aan die Here op te dra.

11. Hy het ook sewe maal daarvan teen die altaar gespat en die altaar saam met alles wat daaraan behoort, asook die wasbak wat daar staan en die voetstuk waarop dit rus met die olie gesmeer om dit aan God op te dra.

12. Hy het ook van die olie op Aäron se kop laat uitloop om hom so aan die diens van die Here te wy.

13. Moses het Aäron se seuns laat nader staan en ook hulle die spesiale hemde vir hulle dienswerk laat aantrek, hulle serpe vir hulle omgehang en hulle die kopbande laat opsit wat hulle moes dra wanneer hulle by die tent werk, soos die Here gesê het hy moet maak.

14. Toe het Moses die bul wat vir die sonde geslag moes word, nader gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop gesit

15. en dit is toe geslag. Moses het van die bul se bloed gevat en daarvan met sy vinger reg rondom aan die horings van die altaar gesmeer om dit aan die Here op te dra. Hy het ook van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgegooi om dit aan God te wy sodat die offers wat daarop gebring word, vir die oortredings kon betaal.

16. Daarna het hy die hele vetlaag oor die binnegoed, die twee niere met die vet daaroor en die lewervet uitgesny en dit op die altaar verbrand.

17. Die res van die bul met sy vel, sy vleis en sy pensmis het Moses buite die kamp in die vuur gaan verbrand. Dit was soos die Here gesê het hy dit moet doen.

18. Die ram vir die brandoffer is toe nader gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die ram se kop gelê.

19. Moses het dit geslag en die bloed daarvan aan alle kante teen die altaar uitgegooi.

20. Hy het die ram in stukke opgesny. Hy het die ram se kop, sy vleis en sy binnevet verbrand.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8