Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 23:25-41 Die Boodskap (DB)

25. Julle mag nie op daardie dag met julle gewone werk aangaan nie. Julle moet vir die Here ’n offer bring wat verbrand kan word.”

26. Die Here het verder ook nog vir Moses gesê:

27. “Die jaarlikse dag waarop daar vrede tussen My en julle kom, is op die tiende dag van dieselfde sewende maand. Julle moet dan weer vir My bymekaarkom. Julle moet op daardie dag niks eet nie en oor julleself nadink. Julle moet ook weer offers vir die Here bring wat op die altaar verbrand word.

28. Op hierdie spesifieke dag moet julle ook julle werk laat staan, want dit is ’n dag van vrede waarop julle sonde vergewe word en julle vrede kry by die Here.

29. Enige persoon wat op hierdie bepaalde dag nie ophou eet en voor God kom buig nie, hoort nie langer by my volk nie.

30. Ek sal enigiemand wat op daardie dag aangaan met sy werk uit my volk verwyder.

31. Dit moet ’n vaste reël vir julle en julle nageslag wees, waar julle ook al bly, dat daar op dié bepaalde dag glad nie gewerk mag word nie.

32. Die dag van vrede moet ’n dag wees waarop julle julleself van alles losmaak en voor God kom neerbuig. Dit moet begin op die aand van die negende dag en aangaan tot die aand van die tiende dag.”

33. Die Here het ook nog verder deur Moses

34. vir die Israeliete gesê: “Die fees van die hutte is op die vyftiende dag van dieselfde sewende maand. Julle moet dit sewe dae lank tot eer van die Here vier.

35. Julle moet op die eerste dag vir die Here saamkom. Julle moet op daardie dag ook al julle werk laat staan.

36. Vir die volgende sewe dae moet julle elke dag vir die Here ’n offer bring. Die agtste dag is ’n besondere feesdag. Julle moet op daardie dag weer bymekaarkom en vir die Here nog ’n offer bring. Julle moet ook op hierdie dag julle werk laat staan.”

37. “Dit is dan al die feesdae van die Here. Op hierdie dae moet julle byeenkomste hou. Bring vir die Here offers wat verbrand word, offers wat op die altaar gebring word, offers wat julle saam met die Here eet en ook offers van wyn soos dit vir elkeen van die feesdae bepaal is.

38. Die dae moet gevier word bo en behalwe die gereelde rusdae van die Here op elke sewende dag. Die offers wat julle by die feeste bring, kom nog by die geskenke en die offers wat julle vir die Here belowe het en by die vrywillige offers wat julle uit julle eie vir die Here bring.

39. Wanneer die fees van die hutte op die vyftiende van die sewende maand begin, is dit ook die tyd dat julle die vrugte van die land begin oes. Dit is dan dat julle sewe dae lank die fees van die Here vier. Die eerste en die agtste dag is rusdae.

40. Op die eerste dag moet julle takke van vrugtebome, palmtakke, takke van bome met digte blare en takke van rivierwilgers afpluk. Dan moet julle sewe dae lank feesvier voor die Here julle God.

41. Dit moet vir julle en julle nageslag ’n vaste gebruik wees dat julle elke jaar in die sewende maand sewe dae lank hierdie fees vir die Here vier.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 23